JP van der Walt, George, skryf:
Die onlangse besluit van die Gereformeerde Kerke in Suid- Afrika (GKSA) en die besluit oor die vrou in die amp van ouderling het betrekking.
Ek is gebore in Potchefstroom en het grootgeword in ’n tipiese konserwatiewe Dopper-huis. My oupa was ds. JP van der Walt, wat vanaf 1909 tot sy (ontydige) afsterwe in 1922 die gemeente Nylstroom/Waterberg bedien het. My ouma, Miemie van der Walt, was ’n baie bekende persoon in die geskiedenis van die Vroue in die GKSA.
Ek is op die ouderdom van 19 tot diaken verkies, en het op 32 die eerste keer ouderling geword. Gedurende my jare en as lid van die kerkraad (by verskeie gemeentes) het ek baie gedink en gewonder oor die Dopper-dogma. So het ek in my leeftyd en tot nou toe onder meer beleef dat:
As Ouma kom kuier het, mag ons op Sondae net Christelike lektuur gelees het, en my ma mag haar nie met breiwerk besig gehou het nie. Dit was on-Bybels (of was dit ongereformeerd?);
Vroue het nie stemreg in die gemeente (kerk) gehad nie, want die Bybel het so gesê;’n Vrou moet haar hoof bedek (hoed dra) in ’n erediens, wat nog te sê ’n langbroek dra! Dit staan ook so in die Bybel;
Daar mag net Psalms (en later Totius se skrifberyminge) in die erediens gesing word, want so leer die Bybel ons;
Met nagmaal mag daar net uit ’n beker wyn gedrink word en ons moet by ’n tafel gaan aansit (in sekere gemeentes waar ek lidmaat was, het daar tot agt bekers die ronde gedoen en tot 10 “tafels” was aan die orde van die dag). Dit was gedoen volgens Bybelse riglyne; en
’n Vrou mag nie op die kerkraad dien nie, hetsy as diaken of ouderling. Wat nog van op die preekstoel staan! Ook hier was die Bybel die riglyn.
Voor ek te sterwe kom (ek is nou 82 jaar oud) gaan daar vroue in die amp van ouderling in die Gereformeerde Kerk wees, en dalk nog op die preekstoel staan!
Dit sal wees net soos vroue nou mag stem, sonder ’n hoofbedekking die erediens bywoon, liedere anders as net Psalms kan gesing word, daar met nagmaal wyn uit kelkies gedrink word terwyl lidmate in die banke kan bly sit, en vroue word in die amp van diaken verkies.
Ek wonder net wat staan vandag nou anders in die Bybel? Is “ongereformeerd’ nou gelyk aan on-Bybels? Die wiel draai in die geval van die GKSA maar baie stadig!
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.















