BRIEF | ‘Stalingrad-taktiek’ moet einde kry

John Serfontein, Annlin, skryf:

Julius Malema se skuldigbevinding en vonnis het betrekking.

Die regstelsel se geloofwaardigheid is onder ’n vergrootglas, en die Malema-saak gaan dit deeglik toets. Die persepsie bestaan dat dié in die “regte dampkringe” of met voldoende finansiële middele hulle tot die “Stalingrad-taktiek” kan wend om hofprosesse te vertraag.

Jacob Zuma en Ace Magashule dien as voorbeelde. Malema het self aangedui dat hy sy saak tot in die hoogste hof sal beveg – en dit is uiteraard sy goeie reg.

Sy persverklaring dat ’n helikopter gereed gestaan het om sy regspan na Makhanda te vlieg vir ’n moontlike borgaansoek, en dat ’n regter op bystand geplaas is, is eweneens verstaanbaar.

Die vraag is egter of hierdie goed geoliede ratte van die regstelsel, wat na Malema se belange omgesien het, ook sal toesien dat sy saak binne ’n redelike tyd afgehandel word?

My kristalbal sê nee, dit gaan nie gebeur nie. Daar sal ook geen einde wees aan pogings om hom tot verantwoordbaarheid te roep weens sy rassistiese en beledigende uitlatings teen landdros Twanet Olivier nie. Skande!

Die howe word deur die “Stalingrad-taktiek” misbruik en dit behoort spoedig aangespreek te word. Tans is dit ’n proses wat stadig beweeg, eindeloos uitgerek word, en elke keer net-net genoeg vorentoe kruip om die indruk van beweging te skep.

Intussen kyk die publiek toe en wonder of geregtigheid stadig is omdat sy versigtig is, en of sy net eenvoudig verdwaal het.

Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

CTA