Johan Wepener, Durbanville, skryf:
Die sterftes op ons land se paaie tel onder van die hoogstes per capita ter wêreld. Daar word geraam dat gedurende 2025 ongeveer 11 500 mense hul lewens op ons land se paaie verloor het.
Hierdie syfer sluit uiteraard nie in die besering van derduisende mense wat ernstig vermink is en permanent die gevolge daarvan sal dra nie.
Daar is na my mening niks met die land se verkeerswetgewing verkeerd nie. Soos talle lesers al tereg aangetoon het, is die grootste probleem dat die wetgewing nie deur die owerhede behoorlik afgedwing word nie, en die bygevolg het daar oor jare ’n kultuur van wetteloosheid op ons paaie ontwikkel.
Ek het onlangs met die N1 vanaf die noorde na die Skiereiland gereis. Dit was ’n onaangename ervaring. Ten eerste is die aantal vragmotors oorweldigend en maak dit uiters moeilik en baie gevaarlik om stadiger verkeer verby te gaan.
Ten tweede minag baie bestuurders elke denkbare verkeersreël. Vir sommiges bestaan sperstrepe eenvoudig nie, nog minder volgafstande.
Kort duskant Laingsburg het ’n vragmotor ’n ander vragmotor op ’n enkelbaan verbygesteek en direk in my enkelbaan van vooraf met flitsende hoofligte aangestorm!
Dit is vergesog dat bestuurders kan vergeet wat ’n rooi verkeerslig, stopteken of ’n sperstreep beteken.
En dit is nie net vragmotors en taxi’s wat ons paaie onveilig maak nie, maar ook baie ander bestuurders, insluitende en nogal opmerklik sommige bestuurders van luukse en peperduur kragtige voertuie.
Verkeersbeamptes is daar wel, maar hulle is, met respek, nie sigbaar nie, of in die alternatief te sien waar hulle ontspan in ’n geparkeerde voertuig.
Die bandeloosheid op ons paaie smeek vir uiters streng sigbare optrede van die owerhede en die genadelose afdwing van padreëls. Dit is verreweg nie goed genoeg om bykans net op spoed te fokus nie.
Ek doen aan die hand dat daar by die ingang en uitgang van elke dorp en stad ’n motorwrak op ’n ysterpaal staan gemaak word as herinnering aan bestuurders. Dit is prakties en goedkoop.
Daar is oorgenoeg voertuigwrakke vir dié doel en dit sal beslis op die psige van bestuurders inwerk en ongelukke bekamp.
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.















