Jan Fourie, Hopefield, skryf:
Onlangse briewe oor bankbedrog het betrekking. Twee jaar gelede het ek ’n soortgelyke ervaring gehad toe iemand bel en sê hy is van Standard Bank se fraud line. Ek het later agtergekom iets is nie pluis nie, maar toe was my rekeninge feitlik leeggetrek.
Ek het toe die ware fraud line gekontak, wat die nodige prosedures verduidelik het. Ek het ’n polisieverklaring afgelê en my banktak het my gehelp om die rekeninge op te spoor waarheen my geld oorgeplaas is.
Ek het al die nodige dokumentasie aan die polisie oorhandig, maar was oortuig dat ek my R65 000 nooit weer sal sien nie. Twee maande (en baie meer grys hare) later het Standard Bank my meegedeel dat die volle bedrag in my rekening terugbetaal is.
Ek is tot vandag toe dankbaar vir Standard Bank en die betrokke amptenare, asook die polisie op Hopefield.




















