Lesers sê

Dié megalomanie nie regverdigbaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Johan Sadie, Paarl:

Ek verwys na Theo Stehle se skrywe “Kirk, Trump en Christelike waardes” (01.10).

Ek wonder of Stehle en pres. Donald Trump se aanhangers in Suid Afrika al ooit na ’n Trump-toespraak geluister of na sy optredes gekyk het. Dit gaan nie oor CNN of die “linkse liberale radikale demokrate” (’n Trump-term) se menings nie, maar wat in die openbaar vir almal is om te sien en hoor. Dis onnodig vir enigiemand om hom in ’n “swak lig te stel”, soos Stehle beweer – hy doen dit sommer self.

Stehle sê Trump het Amerika weer uit ’n “toestand van morele verval, permissiwiteit en kriminaliteit” opgehef. Maar wat dan van Trump en sy meelopers se aanvalle op geslagsgelykheid en ander menseregte?

Is menseregte eerder as herhaalde leuens oor “gesteelde” verkiesings en die ontkenning van sy rol in ’n politieke opstand dan morele verval?

Die swyggeld wat Trump betaal het aan ’n pornografiese aktrise om nie hul seksuele verhouding te openbaar nie, dís permissiwiteit. En die 34 aanklagte dat hy sakerekords vervals het, dís kriminaliteit

Voeg daarby die oorlog tussen Rusland en Oekraïne wat hy glo binne ’n dag sou stopsit, sy ontkenning van die slagting in die Gasastrook, sy dreigement om die weermag teen sy eie mense te gebruik en die vervolging van politieke teenstanders.

Die “groot prestasies” is net wat uit sy eie mond kom. Hy ignoreer feite en verkondig sy eie agenda as waarheid – soos oor die wankelrige ekonomie en werkverliese. Mense wat nie sy duimsuig-statistieke ondersteun nie, word afgedank.

Hy het ’n demokratiese verkiesing regverdiglik gewen – deur verdeeldheid, minagting, oneerbiedigheid, aggressie en vrees te verkondig. Dit klink verdag baie soos Duitsland in 1933.

Stehle verwys na Suid-Afrika as ’n “eens florerende land”. Ja, die huidige regering is swak en laat die mense in die steek, maar die vorige regering was ’n Broederbond-(minderheids)regering wat menseregte onderdruk het en op die koop toe bankrot was. Die besluit was eenvoudig – demokrasie of ’n bloedbad.

Aan Stehle en ander Trump-ondersteuners, ek respekteer jul mening, maar hou op om Trump se megalomanie Bybels te regverdig. Dis geen wonder dat daar verdeeldheid in die geloof is nie.

johan sadie, paarl

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM