Riaan Pienaar, Onrusrivier, skryf:
Luidens onlangse berigte wil die ANC nou die prestasie van DA-munisipaliteite wat skoon oudits verwerf het, afmaak as bloot die reëlmatige uitvoering van finansiële bestuur en nie noodwendig goeie munisipale bestuur in die algemeen nie. Hulle slaan die bal heeltemal mis.
Behalwe die finansiële state en die munisipaliteit se finansiële bestuur, ondersoek die ouditeur-generaal ook, onder meer, die toepassing van die prestasie-bestuurstelsel, voldoening (compliance) aan sleutel-wetgewing, die bestuur van infrastruktuur, die bestuur van verkryging en kontrakte, en daar word selfs gekyk na die instelling se kultuur van rekenpligtigheid en die bestuur van gevolge.
Die 446 materiële onreëlmatighede wat die ouditeur-generaal die afgelope vyf ouditjare by hoofsaaklik ANC-munisipaliteite geïdentifiseer het, sluit in: betaling vir goedere en dienste wat nie ontvang is nie of van die spesifikasies afgewyk het; betaling van rente op laat betalings; ondoeltreffende gebruik van hulpmiddels; verliese weens foutiewe rekeningstelsels; bates nie beskerm of onderhou; afwyking van aankope-prosedures; bedrog; betaling van boetes weens versuim; nie-nakoming van omgewingswetgewing wat die besoedeling van waterbronne tot gevolg het; en die wanbestuur van vullisstortingsterreine.
Die verwerwing van ’n skoon oudit is derhalwe ’n bewys van uitmuntende munisipale regering en bestuur, wat nie moontlik sou wees as sekere gebiede van die munisipaliteit afgeskeep word, soos ons agbare president beweer nie.
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.




















