Lesers sê

Het ons land nog morele kompas?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sarel Myburgh skryf:

Die onlangse onthullings deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, oor korrupsie binne die polisie, het die publiek se vertroue wéér geskud.

Sy moedige uitsprake – wat nou deur ’n regter ondersoek word – plaas die kollig op ’n veel dieper vraag: Het ons as land ons morele kompas verloor?

Integriteit is nie meer ’n woord wat dikwels in ons openbare diskoers gehoor word nie, maar dit vorm die kern van goeie bestuur en openbare vertroue. Wanneer ’n senior polisiebeampte die moed het om wanpraktyke in sy eie geledere uit te wys, wys dit die duidelike verskil tussen mense met beginsels en dié wat dit prysgegee het. Dalk lê daarin die oorsaak van Suid-Afrika se huidige verval: Die afwesigheid van integriteit op alle vlakke van regering. Korrupsie, wanbestuur en die stadige ineenstorting van openbare instellings is nie toevallige verskynsels nie – dis simptome van ’n dieper morele bankrotskap.

Eers wanneer integriteit weer ’n nasionale waarde word – van die hoogste amp tot die plaaslike polisiekantoor – sal ons die era van misdaad, straffeloosheid en wanhoop kan beëindig.

Mkhwanazi verdien die volk se respek. Hy herinner ons daaraan dat integriteit nie naïef of uitgedien is nie – dit is die verskil tussen ware leierskap en verval.

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM