Hennie van Deventer, Melkbos, skryf:
My woorde in ’n vorige brief (“Hoe om dié kopkrap-situasies te hanteer?”, 21.10) was skaars koud, toe gebeur dit weer.
Die formele media se hande word gebind sodat hulle nie name van beskuldigdes mag publiseer nie, maar op sosiale media word die name links en regs uitgeblaker en op die koop toe word gesigte gewys. Ek verwys hier na die boeliesaak rakende die Hoërskool Milnerton.
Hierdie keer is dit nie die wet wat teen die formele media diskrimineer nie, maar ’n misleide landdros wat ’n bevel uitgevaardig het. Hoekom? As redes vir die verbod verstrek is, het ek dit ongelukkig nie te lese gekry nie.
Buiten om die onsinnigheid te bestendig dat konvensionele media onregverdig teenoor hul informele mededingers benadeel word, bereik daardie bevel niks. Dit het in elk geval hoegenaamd niks met kwessies rakende gesonde regspraak te make nie.
As ’n 18-jarige wat moord pleeg se identiteit ingevolge die wet nie sogenaamd “beskerm” word nie, hoekom die identiteit beskerm van lummels wat ’n medeleerling met hokkiestokke takel? Weens ’n landdros se wêreldvreemdheid of sommer net om gesag te laat geld?
Daar bestaan mos nog iets soos ’n redakteursforum. As daardie deurlugtige organisasie iets wil vermag wat werklik vir die media en vir die vrye vloei van inligting van uiterste belang is, beveel ek aan dat hulle die bul van die huidige verwarring onmiddellik (nie volgens die definisie van min. Senzo Mchunu nie . . .) by die horings pak.
Sosiale media se minagting van wette en landdroste (selfs regters) se bevele is ’n werklikheid van ons bestaan. Hulle gaan nie stilletjies in die lug verdwyn nie. Om jou daarvoor blind te hou, is nie bevorderlik vir ’n gesonde samelewing nie en strek niemand tot eer nie.
Nee magtig, so kan belangrike kwessies mos nie onopgelos aankarring nie, tensy die formele media nie omgee hoe hul reputasie as op-en-wakker nuuskanale hierdeur skade ly nie.




















