Lesers sê

Is aktivisme kunstenaars se plig?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Chris van der Westhuizen skryf:

Die skrywes van Johan Wepener (“Musikante moet weer ruggraat kry”, 22.10) en Kobus Terblanche (“Moderne digkuns te modern vir my”, 22.10) het betrekking. ’n Sanger kan deesdae kies om nog liberaal te wees of, daarenteen, baie te skryf en sing teen die rassisme wat ons ondervind. In elkeen van die gevalle vervreem of skryf hy/sy onmiddellik die helfte van sy potensiële gehoor uit.

Is dit nie makliker om liewer te sing oor braaivleis, biltong, rugby, kerslig en die liefde nie?

Die meeste sangers glo ek is in die bedryf om hopelik ’n geldjie te maak uit hulle kreatiwiteit en iemand te wees van wie almal hou, en nie noodwendig ’n Woody Guthrie te wees wat bereid is om aangerand of in die tronk gegooi te word nie.

Dit is ook maklik om vinger te wys na die sangers. Wat is Wepener bereid om te doen? Hy kon maklik ook gesê het ons voorgeslagte was bereid om hul lewens neer te lê.

Is hy bereid om ’n burgeroorlog te begin teen die huidige politieke bestel, waarteen hy glo sangers hulself op die spel moet plaas? Is ons almal dus maar leunstoel-vegters? (Ek glo liewer in vreedsame dialoog.)

Ek het onlangs Merang (2025), ’n versamelbundel van nuwe Afrikaanse gedigte, gelees. Terwyl ek daarmee besig was, het ek saamgesels op die resensent Trisa Hugo se Facebook-blad, waar almal dit redelik eens was oor die onverstaanbaarheid van baie van die gedigte (vir my ook, minstens die helfte).

Maar jy moet seker bereid wees om met ’n woordeboek en Google te lees (ek moes eintlik ook met ’n potlood gelees het om gedigte van waarde te merk).

Skuinse verwysings, soos waar Wium van Zyl verwys na sy “tweetoringkerkie” en Daniel Hugo met “my uniegebou”, is nog oulik en toelaatbaar, maar in Merang is daar gedigte wat vir my regtig te eksplisiet is.

Ek dink die “werk” van die digter is om ’n waarnemer te wees, iemand wat idees kommunikeer deur kreatiewe taalgebruik, soms deur metafore (onverstaanbaarheid?) en om emosies wakker te maak.

Eerstens moet daar darem daardie 1% kreatiewe vonkie wees. Dan kan die digter nog kies watter vonkies om op te volg, en watter om as moontlike loopbaanbeperkende skuiwe te vermy.

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM