Amos van der Westhuizen, Bloemfontein, skryf:
Charlie Kirk se ondersteuners sê hy het gestaan vir vryheid van spraak. Ek lees ook dat hy ’n voorstander was van Christelike Nasionalisme. Lesers wat ons eie Christelik-Nasionale “ideaal” kan onthou, weet sekerlik dat dit nie die soort omgewing is wat bevorderlik is vir vryheid van spraak nie. Dis altyd godsdienstig voorskriftelik.
Ek glo vas die faktore wat ’n demokrasie kan maak of breek, is die korrekte balans tussen vryheid van spraak (uitdrukking daarmee saam), godsdiens en assosiasie. Jy kan vrye spraak beoefen, maar mense kan kies om te luister (assosieer) of nie. Jy kan godsdiens beoefen, maar nie op ander afdwing nie (dus nie in openbare ruimtes wat tot die beskikking van die breë publiek is nie).
Christelike (of enige ander geloof) Nasionalisme is dus in wese teen hierdie vryhede. Dit verplig mense om godsdienstig te assosieer, in direkte stryd met godsdiensvryheid en vryheid van assosiasie.
Die wêreld is vol voorbeelde van partye wat voorgee om vir iets te staan en dit juis nie doen nie. Die EFF gee voor om te veg vir ekonomiese vryheid, terwyl hulle nasionalisering voorstaan. Is ’n groter teenstrydigheid moontlik? Die ANC het gedurende die bevrydingstryd voorgegee om teen rassisme te veg, maar 30 jaar later weet ons nou hulle het net geveg teen rassisme wat teen swart mense gerig is, eerder as rassisme in die algemeen.
Net so vermoed ek Kirk het vir sy eie vryheid van spraak geveg, maar nie vir vryheid van spraak in die algemeen nie. Sy sluipmoord is ’n tragedie. Hy het sy lewe verloor en sy mense ’n geliefde. Sy moordenaar(s) het hul eie saak onberekenbare skade aangedoen. Dit sou beter wees om sy foutiewe argument aan die kaak te stel as om hom te skiet. Daarvoor is ’n samelewing nodig wat kan lees en luister; nie net reageer op slagspreuke en memes nie. Maar dis ’n heel ander onderwerp.
) Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.




















