Lesers sê

Jy SMS: Hoekom mag buitelanders in krokke ry?

Stuur jou SMS na 36260. SMS’e wat die skrywer se naam bevat, kry voorkeur.

Ek stem saam met Lizel van Biene oor die buitelanders in krokke op die paaie (09.06). In ons dorp moet hulle teenaan die polisiestasie verbyry om by hul blyplekke te kom. Die rygoed is aanmekaar gelap en kruie teen ’n slakkepas aan sodat almal agter hulle moet sit en wag, en daar word niks aan hulle gedoen nie. – W. J. C.

Mense kla dikwels oor hoe taxi’s en ander motoriste ry, maar dan sien ek elke dag hoe mense oor die vierrigtingstop voor Serenitas in die Strand ry, sonder om links of regs te kyk. Dis ’n groot ongeluk wat wag om te gebeur. – Outannie, Strand

Die regterbaan op snelweë is vir verbysteek, nie vinnig ry. – Wessel Fourie

Basjan van Bromhof (SMS’e, 09.06), Geordin Hill-Lewis moes al verskoning gevra het toe hy ons te veel belas het. Maar in stede daarvan vertel hy ons om ’n pad te gaan opkap of ’n pyp uit te grawe. Kan jy nou dit glo?! – Deléne, Monte Vista

Frikkie Luttig (SMS’e, 10.06), ek kan jou die versekering gee dat Geordin Hill-Lewis een van die nederigste, hardwerkendste politici is wat bestaan. Foute gaan hy maak. Wie van ons doen nie? – Marthinus Bekker

Ek stem 100% saam met Cowboy1 (Jy op Netwerk24, 05.06): Jacques Nienader was nog nooit ’n goeie afrigter nie en was net in naam hoofafrigter van die Springbokke. – Johan van der Merwe