Lesers sê

Kleinseun moet ware wysheid soek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jan Rudolf, Gordonsbaai, skryf:

Ek skat daar is ’n geringe moontlikheid dat die brief van Wyse Gryse (“Kies kerk waar jy die minste betaal”, 25.10) opreg bedoel is, te wete om te vertel hoe hy sy kleinseun van grootvaderlike raad oor sy toekomstige verhouding met die geestelike sy van die lewe bedien.

So universeel diepliggend beskou die Wyse Gryse dit oënskynlik, dat hy dit vir ons almal wil verduidelik.

Dit is óf dít óf die brief dryf die spot met die reeds snuifgetrapte geloof/godsdiens-teenstrydigheid. Ek moet die laasgenoemde aanvaar, want die eersgenoemde is darem te onheil-spellend om waar te kan wees.

Daar is ’n skeut snydende sarkasme in byna elke stelling, wat dit bitter moeilik maak om te beoordeel, wat nog te sê om sinvol daarop te reageer.

In sommige uitlatings is daar ligpunte van waarheid, in sommige, absurde wanvoorstellings.

Wat sekerlik waar is, is dat daar sommige “godsdienste” is waarin die lede hul skuldig maak aan die simplistiese sienings wat die brief vermeld.

Wat ’n mens se oë egter laat rek, is byvoorbeeld die “openbaring” dat die meeste godsdienste dit teen slegs twee sondes het, naamlik moord en diefstal!

Wat vat die kleinseun saam met hom die lewe in nadat die Wyse Gryse hom probeer begeester het met sy eie onsekerheid?

Is die logiese gevolgtrekking van die “raad” dan nie dat die kleinseun maar eerder ’n ateïs moet word nie, want nêrens lees ek dat die geloof werd is om na te streef nie?

Ek glo die uiteindelike uitwerking van die “raad” op die jongman se beïnvloedbare gees gaan lewensmoedeloosheid, wanhoop, radeloosheid en depressie wees – en nog vernietigende geestelike opstand op die koop toe.

Die raadsoekende kleinseun behoort eerder geleer te word hoe om ’n gelowige te wees, sonder “sirkusagtige” godsdienstigheid, en om die kerke te besoek ten einde self uit te snuffel watter van hulle die blye boodskap versprei en uitleef, naamlik dat God vir die wêreld so lief was dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

En om eerder die ware wys-heid te soek: Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig (Spreuke 2:6).

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM