Izak Smalman, Bailliepark, skryf:
Julius Malema was so seker dat hy verlede week op alle aanklagte onskuldig bevind sou word dat sy ondersteuners buite die hofgebou vir hom ’n verhoog opgerig het vanwaar hy sy oorwinningstoespraak kon lewer.
Hy moes toe ná sy skuldigbevinding inderhaas ’n ander toespraak opdis – wat ek glo nie veel anders as die oorwinningstoespraak sou wees nie, met die klem op sy haat vir wit mense.
Kom ons kyk na die regsaspekte. Dwarsdeur die verhoor en daarna het Malema van die gereg ’n politieke speelbal gemaak eerder as om te fokus op die daad wat hy gepleeg het.
Sy skuldigbevinding bevestig bloot sy minagting vir mense se veiligheid en lewe, dit bewys inderdaad dat sy gewraakte “Kill the Boer” geensins net ’n vryheidslied is nie. Nee, hy sal die daad by die woord voeg.
Met sy optrede het Malema sekerlik heeltemal strydig met sy regspan se advies opgetree. Watter bewys van berou kan hy nou voor die hof lê op soek na versagtende omstandighede?
Al wat nou vir hom oorbly, is om die modus operandi van sy eertydse mentor, Jacob Zuma, te volg, naamlik om die regsproses so lank moontlik te vertraag.
Ek weet nie waarom die vonnisverrigtinge vir bykans vier maande tot volgende jaar uitgestel is nie. Dit gee wel oorgenoeg tyd vir die polisie om alle veiligheids- en voorkomingsmaatreëls in te stel ingeval Malema tot tronkstraf gevonnis word.
Ons onthou nog hoe Coligny tot byna op sy fondamente verwoes is nadat twee wit mans in die hof verskyn het op aanklag van moord op ’n swart seun. Dit gaan veel erger wees as Malema tot tronkstraf gevonnis word.
Ja, Malema en sy ondersteuners is met die broek op die knieë gevang. Die polisie moet nou verhoed dat hulle ook onkant betrap word.
Wees daarom gereed om enige verwagte geweld hok te slaan. Die EFF kan nooit, maar nooit, vertrou word nie.




















