John, Somerset-Wes, se brief "Daar is beslis nog hoop vir SA" (07.04) het my laat terugdink aan toe ek en my gade jare gelede van Gqeberha op pad Bloemfontein toe was.
Iewers tussen nêrens en êrens in die Karoo staan daar 'n jong vrou en haar dogtertjie langs 'n bakkie lang die pad. Die vrou staan met haar hand na bo uitgestrek, so asof sy om hulp van Bo vra.
Ek ry eers verby, maar my vrou sê ons moet omdraai - die vrou het hulp nodig op hierdie verlate pad. By die uitklimslag sien ek die regter agterwiel van die bakkie is daarmee heen. Sy is 'n boervrou op pad huis toe, 'n paar kilometer verder.
Met groot gesukkel ruil ek die beskadigde band om. Terwyl ek daarmee besig is, hoor ek die dogtertjie vra haar ma wie ek is. Die vrou antwoord dat liewe Jesus my gestuur het om hulle te help.
Ons het agter hulle aangery tot by hul plaas se afdraai. Ons was al 'n hele ent weg toe sien ons hulle waai steeds. Met 'n lied in ons hart het ons ons reis huis toe hervat.





















