Ons lewe draai nie aldag uit soos wat ons dit beplan het nie. Volgens J.M. Barrie, die skrywer van Peter Pan, is dit juis een van die groot ontnugterings van die lewe: "The life of every man is a diary in which he means to write one story, and writes another, and his humblest hour is when he compares the volume as it is with what he vowed to make it."
Daar's 'n beter roete. Dit begin met jou besluit om al jou wenslysies en al jou drome van geldelike sukses in die agterste laai van jou lewe weg te pak. Sulke dinge se vreugde is kortstondig. Moenie die sukses van jou lewe daaraan meet nie.
Meet dit aan Jesus se standaard. Gebruik dit wat Hy in Markus 9:35 van jou vra as maatstaf vir jou lewe. Hoor net: "Die belangrikste mense in hierdie wêreld is hulle wat bereid is om hul eie belange eenkant toe te skuif. Ja, dis hulle wat soos die onbelangrikste van almal optree en ander help waar hulle kan."
Met ander woorde, ontself jouself! Wy jou lewe daaraan om Jesus en ander te dien. Dan ontdek jy tydlose lewensvreugde en vervulling.
Uit die Woord
Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees - een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander. - Filippense 2:1-4





















