Teana Fourie-Wegner, Paarl, skryf:
Twee jaar gelede het ons ’n veilige gholfandgoed by die Paarl verruil vir die karakter van ’n net meer as 70 jaar oue huis net af van die Hoofstraat.
Die skuif was ’n seën. Ons het die ongeëwenaarde gerief van ’n wandelvriendelike dorp ontdek, met uitstekende skole naby, en die daaglikse weelde om te voet ’n brood te gaan koop. Die lys voordele gaan aan.
Dit is egter ’n wrede paradoks dat ons dorp, een van die mooiste in Suid-Afrika, sy klein besighede en inwoners in die hoofstraat sien ly.
Die lewensaar van ’n gemeenskap is mense wat hul motors parkeer om te kuier en die mooi geboue en besighede te voet te verken. Dié voorreg is besig om op te droog, vervang deur ’n senuweeagtige stroom verkeer wat verby al die mooi plekkies ry.
Die oorsaak is misdaad. Mense is nie veilig nie en word oorval deur bedelaars, kamstige karwagte, slenteraars en moeilikheidmakers. Ek stap gereeld hierdie strate en het geleer om hiperwaaksaan te wees.
Dat ons ’n probleem op hande het, is net weer bevestig toe ek twee jong diewe op heterdaad betrap het met hul hande in my dogter se skoolsak. Al het ek hulle ’n groot skrik op die lyf gejaag, is die probleem sistemies.
Waar is die polisie in die hoofstraat?
Hoekom patrolleer niemand ons hoofstraat om hierdie kosbare dorp te beskerm nie? Laat ons moeite doen om dit te red, voordat dit nog ’n Johannesburg-sakekern word.




















