Leon Haasbroek, Langebaan, skryf:
Ek het op die openbare media weer opnuut die tragiek van plaasmoorde en plaasaanvalle waargeneem tydens die onlangse geleentheid toe daar nuwe kruisies geplant is.
Ons het vroeër vanjaar op pad Krugerwildtuin toe daar verbygery en die baie kruisies gesien.
Die media het nie al die kruisies gewys nie, maar as ek reg verstaan, is daar meer as 3 000 kruisies. Dit is egter nie die volle getal van aanvalle en plaasmoorde sedert 1994 nie.
Die hartseer en pyn van die geliefdes wat nuwe kruisies geplant het, het my aangegryp en net weer laat besef in hoe ’n gevaarlike en regering-onsimpatieke omgewing ons boere hulle bevind.
Ek het vergeefs die media dopgehou om te kyk of die ANC-regering dalk gaan reageer. Hoe is dit moontlik dat ons ANC-regstelsel en regering nie kan sien dat “kill the boer, kill the farmer” haatspraak is en ’n negatiewe invloed op ons hele land het nie?
Cyril het aan die begin van sy termyn gesê hy wil ’n land vir al die burgers in Suid-Afrika skep. Hy het gruwelik misluk, want intussen dreunsing Julius Malema en trawante steeds dié woorde sonder enige gevolge en gaan die moorde en aanvalle voort.




















