Lesers sê

Rugby is deesdae ’n presisiebedryf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sarel Myburgh skryf:

Ek onthou nog van my pa se rugbywedstryde­ in die middel 1960’s. Hulle het gespeel op ’n veld waar die gras skaars die grond bedek het en die enigste persoon wat iets soos “afrigting” gedoen het, was oom Gert, hul breier. Hy het die truie gewas, die balle gepomp en voor afskop net gesê: “Manne, tackle hard en hou vas.” En dit was dit. Geen tegniek, geen video-ontleding nie. Net suiwer passie vir die spel. Die “tokse” het geblink en die kouse is tot onder die knie opgetrek en met ’n rek in posisie gehou.

Tydens rustyd het hulle nie ’n sportdrankie of energiestafies gehad nie. Net ’n halwe lemoen, soos die groot Hansie Brewis eendag gesê het – dis waarvoor hulle gespeel het. ’n Halwe lemoen en die trots om die trui te dra. Teen die laat 1960’s het dinge­ begin verander. By skole het spanne sommer twee afrigters gehad – een vir die voorry en een vir die agterlyn. Dit het vir ons gevoel soos die begin van ’n nuwe era. Skielik het ons gehoor van taktiek, van verdedigingstrategieë en -strukture. Die dae van breiers het plek gemaak vir afrigters wat beplan, ontleed en motiveer.

Toe kom die 1990’s en met professionele rugby het alles verander. Vandag het ’n nasionale span ’n afrigter vir elke moontlike faset: ’n skrumafrigter, ’n agterlynafrigter, ’n kondisioneringsafrigter, fisioterapeute, dokters, ontleders, spanbestuurders en selfs sielkundiges.

Rugby het ’n wetenskap geword – ’n presisiebedryf eerder as net ’n spel. Waar ons vroeër met instink en hart gespeel het, word vandag se spelers deur data­, tegnologie en prestasie-aanwysers gelei. Elke pas en hou word ontleed. Spelers se bewegings, dieet en slaap word gemonitor en geoptimaliseer. Die moderne rugbyspeler is ’n atleet in ’n fabriek van voorbereiding.

Maar tog, iets het verlore gegaan in dié oorgang van suiwer passie na professionele perfeksie. Rugby was eens ’n spel van gemeenskap en karakter, nie van kontrakte en korporasies nie. Vandag word spelers vergoed met kontrakte van verskillende groottes – soms miljoene rande werd. Rugby het ’n geldmasjien geword, ’n onderneming waar sukses gemeet word in borge en bonusse.

En tog, diep binne-in elke speler, glo ek daardie ou vuur brand nog.

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM