Koos van die Waterberge, skryf:
Daar word deesdae al hoe meer opmerkings gemaak oor die moontlikheid van ’n staatsgreep in Suid-Afrika.
Gegewe die geskiedenis van Afrika is só ’n moontlikheid seker nie te vergesog nie.
Die reeks historiese staatsgrepe in Afrika, en nou onlangs ook in byvoorbeeld Mali, Guinee en Madagaskar, het hul wortels in ’n kombinasie van swak instellings, diepgaande korrupsie, etniese verdelings, ekonomiese verval en ’n swak georganiseerde burgerlike gemeenskap.
Dit kom ook voor waar demokratiese tradisies swak ontwikkel is, staatsinstellings gekaap of disfunksioneel is en waar die weermag die enigste werklike instrument vir orde daarstel.
Daar is dalk ’n ander meer wesenlike gevaar as ’n staatsgreep – ’n totale institusionele inploffing. Dít hou verband met ’n stadige maar sekere verplasing van die staat se mag na informele magsnetwerke.
Sulke magsverwatering kan op die volgende terreine uitspeel: ) Selektiewe polisiëring, waar sekere sindikate beskerm en ander gebrandmerk word;
) Politiek-gemotiveerde vervolgings en inhegtenisnames;
) Streeksverbrokkeling, waar provinsies soos KwaZulu-Natal semi-outonoom begin optree;
) Intimidasie van hervormers in die polisie en regsbank; en
) Die verbrokkeling van openbare vertroue deur ontnugtering waar parallelle strukture langs staatstrukture ontwikkel.
Meeste van dié tendense het reeds in die land begin posvat.
Interne gevegte in die ANC moet ook nie uit die prentjie gelaat word nie. Die verdeling tussen die hervormers en populistiese radikales het ontaard in ’n strategiese slagveld – ’n soort politieke herbelyning binne die veiligheidsgroeperinge.
Indien groeperinge in die polisie konsolideer in ’n politieke blok teen die grondwetlike onderbou van die staat, kan ons moontlik ’n periode van meer outoritêre polisiëring betree waar die veiligheidsgroepering nie meer die staat dien nie, maar die onderwêreld.
Die groter gevaar as ’n staatsgreep lê dus in werklikheid in die moontlikheid van ’n “onopsigtelike” staatsgreep waar demokratiese instellings stelselmatig uitgehol word deur korrupte leierskap in die polisie, politici met kriminele bande en ’n gebrek aan burgerlike oorsig.




















