Ds. Pieter de Jager, Reddersburg, skryf:
’n Hele driekwart van Elmarie Dercksen se bydrae tot Godsdiens aktueel (08.10) het sy gewy aan die waarde van jazzmusiek en haar sangaandeel daarin saam met haar geliefde professor.
Om by haar opgelegde tema te bly, trek sy toe die streep deur na opvallende ooreenkomste tussen jazz en veral die lewe saam met God.
Haar hele bydrae getuig van ’n algemene godsdiens waar God ingepas kan word in haas elke sfeer van die lewende heelal. Haar kerk se beleid is inklusief: Daar moet ruimte gemaak word vir alle gelowe, ongeag nasionaliteit, kultuur, geslag, seksuele oriëntasie en dies meer.
Onlangse mediaberigte oor gesamentlike aanbidding met Moslem en ander niechristelike godsdienste in die kerkgebou van die NG kerk Hermanus en Groote Kerk, Kaapstad, bevestig dit.
Waar lê nou die probleem; by die media se riglyne wat aan ’n rubriekskrywer voorgehou word, by die kerk wat van haar lidmate verwag om inklusief alle gelowe te betrek, of by die skrywer self wat haar eie waarheid wil neerpen?




















