John Serfontein, Annlin,skryf:
Die redaksionele kommentaar “Vordering met VSA – gesprek vra konsekwentheid” (26.9) het betrekking.
Die gesloer om ’n ambassadeur in Amerika aan te stel, is deel van die probleem waarom ons onbeholpe voorkom rakende die tariefverhogings. Kom die departement van internasionale betrekkinge en samewerking sy pligte na, of is dit, soos die res van die land se staatsinstellings, bloot ondoeltreffend?
Die O.R. Tambo-gebou in Pretoria, waar hy gehuisves word, is ’n indrukwekkende kolos van ’n struktuur. Die vloeroppervlakte is glo groot genoeg om 18 rugbyvelde in te pas. Volgens Wikipedia het die departement in 2022 sowat 2 000 werknemers gehad.
Die vraag is of die departement die sondebok is waarom ons in Amerika so onbeholpe voorkom, of is dit die ideologiese oogklappe van ’n ANC-regering wat besig is om ons te kelder? Moontlik is dit die afwesigheid van beslissende leierskap wat die probleem is. Besluit maar self, of kies uit die skottel van gemors.




















