Lesers sê

Wegraping-sage se splinters, balke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jaun de Vries, Boksburg, skryf:

Wêreldwyd sterf sowat 150 000 mense per dag. Tussen 23 en 24 September is dus sowat 300 000 mense uit die lewe “weggeraap”. Oor ’n jaar van nou af sal nog 55 miljoen mense se plekke tussen ons leeg wees. En oor ’n eeu sal bitter min van die miljarde mense tans lewend nog hier wees. Almal “weg”. Waarheen?

Perspektiewe en oortuigings daaroor verskil. Selfs tussen Christene is daar klemverskille.

Tog behoort Bybelgelowiges oor eskatologiese kernsake saam te stem, byvoorbeeld die wederkoms van Jesus Christus, ’n ewige lewe, ’n oordeelsdag.

Christene kan nie die opdrag om die Evangelie te verkondig uit die oog verloor nie. Daar is ’n dringendheid dat mense die Evangelie moet hoor omdat niemand weet wanneer hul sterwensuur aanbreek nie.

Die hele Danie Botha-sage het net weer onthul hoe baie vingerwysende mense self so verkeerd optree, eintlik nie die Bybel ken nie, dink hulle het die wysheid in pag, sit in die kring van die spotters en skiet te kort aan nederigheid.

Dis ongetwyfeld lasterlik om woorde in God se mond te lê en dis hoogs onverskillig om hoofstuk- en versnommers te gebruik om datums daaruit af te lei.

’n Mens wonder egter hoeveel medegelowiges het die Matt. 18-pad saam met Botha gevolg voordat hulle hom as vals profeet gebrandmerk het.

Die kerk het voorskrifte gekry oor die wyse waarop medegelowiges met mekaar moet handel as gesondig word. Hoeveel Christene het die eerste twee stappe in Matt. 18:15-17 geïgnoreer en summier tot die gevolgtrekking in vers 17 gekom?

Baie mede-Christene, onder wie predikers en lekepredikers, het presies só op sosiale media opgetree. Op wyses wat ’n mens laat ineenkrimp. Dit laat nie hul Christenskap beter as Danie s’n lyk nie. Inteendeel.

Dit is nie slegs Botha se optrede wat die Here tot oneer strek nie, maar ook sommige van sy kritici behoort hulself eerlik en indringend te ondersoek. Net soos vals profete kan die wyse hoe Christene met mekaar omgaan, óók skade veroorsaak.

Die wegraping, wat die ware gelowiges sou onthul, het toe nie plaasgevind nie. Tog is vele Christene se venyn, gespot en onkunde blootgelê.

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM