Watter eksterne invloede het die jong D.F. Malan gevoed, hy wat eerste minister sou word (1948-1954) toe die apartheidstelsel sy formele beslag gekry het? Die historikus Lindie Koorts se studie oor Malan gee nuttige insigte.
Met die Britse invloed aan die Kaap sedert 1806 het Kaapse Afrikaners geleidelik verengels en 'n gematigde houding teenoor hul Britse landgenote aangeneem.
Met die ontdekking van diamante in 1867 en goud in 1886 is 'n keerpunt egter bereik. Onder baie Kaapse Afrikaners het 'n nuwe bewuswording posgevat: 'n positiewe bewussyn van hul broers in die Boererepublieke en dié se stryd teen die Britse ryk - en die mate waarin hul eie kultuur verdring word.
Daar is geleidelik ingekoop in die broers se stryd teen Britse imperialisme. Met dié gedagte van breër Afrikaner-eenheid het Malan grootgeword. Aan die Victoria Kollege het die skaam, sedige Malan sedert 1893 sy merk in die Unie-debatsvereniging gemaak. Dit was 'n forum waarin 'n nuwe geslag geleerde jong Afrikaners hul stand se belange kon verwoord, met 'n nuwe nasionalisme wat minder gematig as dié van hul ouers was.
Sy mentor, prof. Valeton, wat oor die Bybelse Elia werk, laat hom uiteindelik besef wat sy roeping is: Om sy lewe te wy aan die bewaring van die Afrikanervolk.
Uit sy debatte blyk sy gevoel teen kapitalisme én sosialisme. Kapitalisme melk die plaaslike bevolking en maak die buitelandse nyweraars ryk. Dit lei tot ekonomiese ongelykheid, wat weer tot sosialisme en anargisme lei - vreemde euwels vir die Afrikaner se nasionale karakter.
Met Malan se studie van die filosofie het hy hom aangesluit by die Duitse filosowe Johann von Herder en Johann Fichte se idees oor die uniekheid van elke kultuur wat tot elke prys bewaar moet word.
Aan die teologiese kweekskool op Stellenbosch sedert 1896 het proff. N.J. Hofmeyr, J.I. Marais en P.J.G. de Vos 'n vormende invloed op Malan se denke gehad. As alumni van die Universiteit van Utrecht is hulle deur die Romantiese Réveil-beweging beïnvloed wat 'n terugkeer na die "suiwer" gereformeerde geloof en Calvinisme was. En dit het - in navolging van die opkoms van nasionalisme in Wes-Europa en die vorming van verenigde state soos Duitsland en Italië - 'n nasionalistiese strekking gehad.
Toe Malan in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog aan die Universiteit van Utrecht vir sy doktorale studie opdaag, verras die Nederlanders se pro-Boer-houding hom.
Die Jameson-inval van 1896 om pres. Paul Kruger se Zuid-Afrikaansche Republiek omver te werp het Kaapse Afrikaners verskeur tussen hul lojaliteit teenoor koningin Victoria en meelewing met hul noordelike stamgenote. Vir die ontnugterde jong Malan was dit belangrik dat die Afrikaner sy nasionale karakter en Afrikaans bewaar.
Toe Malan in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog aan die Universiteit van Utrecht vir sy doktorale studie opdaag, verras die Nederlanders se pro-Boer-houding hom. Dit tref hom ook dat armoede deur regeringsbeleid en wetgewing aandag moet kry.
Sy mentor, prof. Valeton, wat oor die Bybelse Elia werk, laat hom uiteindelik besef wat sy roeping is: Om sy lewe te wy aan die bewaring van die Afrikanervolk.
En in sy doktorsgraad oor die Ierse filosoof George Berkeley, wat die wêreld se afhanklikheid van God beklemtoon, het Malan krag geput. Jare later sou hy na God verwys as "'n Oppermagtige Brein", 'n Groot Ingenieur wat die Afrikanervolk se weg ontwerp het.
• Die eerste 160 rubrieke van Terugblik is in die bundels Terugblik en Terugblik 2 opgeneem wat deur Protea Boekhuis uitgegee is.
* Pretorius is 'n emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

















