Pres. Cyril Ramaphosa se e-pos behoort al oor die naweek in Angie Motshekga se mandjie geval het – die een waarin sy onmiddellik afgedank word as Suid-Afrika se minister van verdediging. As Ramaphosa ’n ruggraat het en nie ’n jellievis is nie, sal hy nie toelaat dat hy so openlik geminag word nie.
Daar moet reperkussies wees vir almal wat deel was van die Irannese flater wat afgespeel het in die plaaslike vlootoefening.
Dis allermins ’n misverstand. Dit is nie ’n prosedurele fout nie. Dit is nie ’n kommunikasiegaping in ’n ingewikkelde bevelsketting nie. As dit waar is dat Ramaphosa gelas het dat Iran nie aan Suid-Afrika se vlootoefening moes deelneem nie, en Iran het tog deelgeneem, dan is dit openlike minagting van die hoogste gesag in die land. ’n Middelvinger wat vir Ramaphosa gewys word. En daarvoor móét ’n kop rol.
Nie môre nie. Nie ná ’n ondersoek nie. Nou.
’n Land waar ’n presidentsopdrag geïgnoreer kan word sonder gevolge, is nie meer ’n funksionerende demokrasie nie. Dit is ’n staat waarin gesag en dissipline verkrummel. En Suid-Afrika is nie ’n piesangrepubliek waar ’n president se gesag só uitgetart kan word nie.
Motshekga is nie ’n byspeler in hierdie drama nie. Sy is die politieke hoof. Sy is aangestel deur Ramaphosa en staan onder sy gesag. Nie andersom nie. Sy kan nie haar eie kop volg in so ’n delikate saak nie. Dis haar werk om te verseker generaals en admiraals volg nie hul eie kop nie. As sy dit nie kan regkry nie, is sy onbevoeg. As sy dit toegelaat het, is sy roekeloos. Albei vereis ontslag. Onmiddellik.
Die verskonings wat nou rondgeslinger word van “bevelskettings”, “misverstande” en “prosesse wat gevolg moet word” is maar bloot versiersuiker en probeer die diplomatieke verleentheid versag. Dis die taal van ’n regering wat gewoond geraak het daaraan dat niemand ooit aanspreeklik gehou word nie. In Suid-Afrika is ’n ondersoek lankal net ’n ander woord vir tyd wen en verantwoordelikheid begrawe.
Maar hierdie keer is die implikasies groter. Veel groter.
Om alles te kroon, ná ’n week van stilte, kom Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, en wys half triomfantlik die vinger na China vir die deelname van Iran aan ’n vlootoefening buite Simonstad.
Die oomblik toe die VSA hoor dat Iran aan die vlootoefening in Suid-Afrika se gebiedswater gaan deelneem, het hulle ons gewaarsku ons gaan ’n duur prys betaal. Ons wou nie hoor nie. Eers toe pres. Donald Trump dreig met ’n tariefverhoging het Suid-Afrika besef die pôpô gaan die waaier tref as daar voortgegaan word met die oefening waarin Iran ’n sleutelrol gespeel het.
As Ramaphosa hierdie voorval laat verbygaan met nóg ’n verslag, nóg ’n verduideliking en nóg ’n “ons neem kennis”, dan bevestig hy die ergste vermoede: dat sy gesag onderhandelbaar is en dat dissipline opsioneel is.
Hierdie onverkwiklike episode is ’n toets vir Ramaphosa. Leierskap beteken nie om almal gelukkig te hou nie. Dit beteken om ’n lyn te trek en te sê: tot hier en nie verder nie. As ’n minister nie ’n presidentsopdrag kan of wil afdwing nie, moet sy summier uit haar pos verwyder word. Sonder sentiment. Sonder verskonings.
Motshekga se kop móét rol, want sy moet verantwoordelikheid neem vir dit wat op haar wagbeurt gebeur.
Die vloot kan nie doen wat hy wil nie en ministers kan nie wegkruip agter die rokspante van ondergeskiktes nie. Motshekga moet self loop of Ramaphosa moet haar laat loop. Daar is geen grys gebied nie. • Maarman is eindredakteur van Die Burger. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.



















