Vryheidsdag was weer 'n geleentheid om die land se verlede en toekoms in heroënskou te neem.
Julius Malema, EFF-leier, het die ANC in sy toespraak gedreig oor die toekomstige moontlikheid van 'n wit president. Hy het gesê as die ANC voortgaan met sy arrogansie, kan John Steenhuisen, DA-leier, die volgende president word. Hy het verwys na die voortslepende geveg oor die begroting, BTW en die EFF se verhouding met die ANC.
Daar word nie gereeld na ons president se ras verwys nie, want dit word aangeneem dat die president swart sal wees. Dis al jare die aanname, want die ANC het nog altyd oorheers en in sy senior leiersgroep was daar geen wittes met sterk vooruitsigte nie. Die party spog graag oor sy nierassigheid, maar dit het nog nooit sedert 1994 gelyk of 'n wit mens president kan word nie.
Wyle Joe Slovo was die laaste gewilde wit leier in die ANC. As voormalige sekretaris-generaal van die SAKP, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en 'n leidende intellektueel, was Slovo sedert sy dae in ballingskap uiters gewild. Daar is omtrent nie 'n township in die land wat nie 'n Joe Slovo-plakkerskamp het nie.
Ons het politieke liedjies oor hom gesing lank voordat ons geweet het hoe hy lyk. Sommige kamerade was voor sy terugkeer uit ballingskap onder die indruk hy is swart. Maar dit het nie saak gemaak nie en sy gewildheid het nooit getaan nie. Slovo is in 1995 dood en die SAKP hou steeds jaarliks op 6 Januarie 'n gedenkdiens vir hom. Die bydrae en teenwoordigheid van wittes in die ANC het sedertdien afgeneem.
Oor die jare was dit nie net ANC-oorheersing nie, maar ook 'n narratief dat Suid-Afrika nie gereed is vir 'n wit president nie wat as evangelie aanvaar is.
Dit het pres. Donald Trump van die VSA geverg om ons sover te kry om ras te herbedink en onsself af te vra of dit reg hanteer word in die land. Trump glo wittes hier word sleg behandel.
Die regering word nou gedwing om twee keer te dink oor die aanstelling van 'n nuwe ambassadeur in die VSA, want die raskaart word nou 'n oorweging. 'n Paar wit kandidate word oorweeg, onder wie Roelf Meyer, voormalige NP-minister en een van die hoofonderhandelaars in aanloop tot 1994 se oorgang; Andries Nel, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake en een van die min wit ANC-lede; en Marthinus van Schalkwyk, voormalige NP-leier en tans hoë kommissaris in Australië.
Sommige ANC-kamerade is nie gelukkig met die idee nie en glo nie Trump hoef gepaai te word nie omdat sy aannames oor wittes ongegrond is. Wat ook al die uitkoms, die regering dink te minste nou aan rolle vir wit burgers.
Steenhuisen as president is Malema se idee van 'n oordeelsdag-scenario. Hy kry Steenhuisen natuurlik hiermee terug omdat dié al na samewerking tussen die ANC, EFF en MK-party verwys het as 'n oordeelsdag-scenario.
Maar die land het verander sedert 'n wit president 'n aaklige oordeelsdag-scenario was. Vir ouer swart Suid-Afrikaners sal 'n wit president 'n bitter pil wees om te sluk. Jongmense gee egter nie om wie die president is nie, solank dit iemand is wat doeltreffend is en hul lewe verbeter. Hulle klou nie so vas aan die geskiedenis soos my generasie nie.
Die kwessie van 'n wit president is een van sentiment. Steenhuisen sal dalk nie die eerste post-apartheid- wit president word nie. Maar 'n jonger generasie wit politici soos Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, en dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, sal eendag oortuigend kan argumenteer dat hul suksesse in regering meer behoort te tel as sentiment.
• Tabane is politieke redakteur van City Press. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.












