"Wat is die kerk se standpunt?" Om die een of ander rede is hierdie idee diep ingeburger in mense se hart dat die kerk standpunte oor alles in die lewe moet hê. As die kerk se standpunte boonop nie op openbare platforms hoorbaar is nie, volg allerlei verwyte van irrelevansie en ontrouheid.
Ek het respek vir kerkleiers wat nie gedurig 'n mening oor alles het nie. Nooit was dit deel van die DNS van die vroegste kerk om standpunte oor elke krisis of vraagstuk te moet inneem nie. Of om gedurig verklarings uit te reik oor dit waarvoor hulle staan en dit waarteen hulle is nie.
Hul geloofsbelydenisse was eenvoudig. Hulle het Jesus as Heer bely. Hulle het in liefde voor God en tussen ander geleef. Hulle het mekaar gedien. Só het hulle die wêreld verander. Die eerste gelowiges se lewe was hul getuienis, nie hul standpunte oor elke nuwe kwessie van die dag nie.
Standpunte op die regte tyd is nodig. Maar standpunte is meestal reaksies op huidige gebeure, vrae en insidente. Solank as wat ons net sulke standpunte inneem en nie leefpunte het wat ons geloof vergestalt nie, oorleef ons maar net van krisis tot krisis.
Uit die Woord
Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak. - Spreuke 18:2













