Koalisies het sover meestal tot onstabiliteit gelei omdat politieke verhoudings telkens ineenstort.
Maar koalisies het ons ook meer geleer van nuwe leiers uit kleiner en minder bekende partye van wie ons andersins nie sou weet nie.
Kleiner partye het al baie swak leiers opgelewer, soos in die Johannesburg-metro, waar Thapelo Amad en Kabelo Gwamanda as burgemeesters van die Al Ja-mah-party rampspoedig was.
Die grootste koalisie, die regering van nasionale eenheid (RNE), het wel al ’n paar positiewe verrassings opgelewer, soos dr. Pieter Groenewald van die VF Plus. Vir die meeste Suid-Afrikaners wat nie aktief aan politiek deelneem nie, was Groenewald voorheen ’n onbekende entiteit. Maar sedert sy aanstelling in Julie 2024 as minister van korrektiewe dienste lyk dit of sake in dié departement rég begin loop.
Op sosiale media word foto’s versprei van gevangenes wat brood bak in tronke en in groentetuine werk, pleks daarvan om in selle rond te sit. In die verlede was daar klagtes oor die “vyfster”-verblyf in tronke wat misdaadslagoffers laat voel het of oortreders nie regtig gestraf word nie. Groenewald het maatreëls ingestel wat mense laat voel dat misdadigers vir hul dade boet.
Hy het ondoeltreffendhede getakel, korrupsie verminder en aanspreeklikheid verhoog. Hy het aanbevelings van die paroolraad laat hersien, afhanklikheid van korrupte verskaffingskettings verminder en strenger toesig in plek gestel. Sy plan om tronke selfvoorsienend te maak deur bakkerye en groentetuine spaar belastingbetalers geld.
Oorvol tronke is ’n groot probleem.
Groenewald se voorstel om buitelanders na hul lande van oorsprong te deporteer sodat hulle tronkstraf dáár kan uitdien, is goed ontvang. Hy word gesien as ’n streng, gedissiplineerde mens wat nie nonsens van gevangenes of bestuurders van tronke vat nie. Sedert sy aanstelling het meer as 180 bewaarders hul werk verloor weens wangedrag.
Maar bewaarders sien hom ook as regverdig. Hy het iets gedóén aan diegene wat sedert 2019 nie verhogings ontvang het nie, wat moreel bevorder het.
Maar die éintlike storie oor Groenewald is dat baie swart mense teen die einde van 2025 en aan die begin van die jaar ’n slagspreuk op sosiale media begin het: “Groenewald vir president.”
Hoewel hulle in die verlede niks met die VF Plus te doen wou hê nie, is hulle nou gereed om mag aan die party te gee indien sy leiers so goed kan regeer soos Groenewald oor die afgelope 18 maande.
Die VF Plus word histories gekoppel aan wit Afrikaners wat ná 1994 ongelukkig was met die nuwe bedeling en oudondersteuners van die Konserwatiewe Party wat die einde van apartheid teengestaan het. Dis nie ’n organisasie wat homself geliefd gemaak het onder swart mense nie.
Toe dr. Corné Mulder, partyleier, gepols is oor die liefde en ondersteuning vir Groenewald, het hy dit duidelik gestel dat sy party nie sy kernbasis sal verlaat om ’n nuwe kieserskorps na te jaag nie. Sy party sal staan by sy beleide, insluitende teenstand teen swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie. Dit skep ’n dilemma vir swart kiesers. Stem hulle vir die party omdat hy suksesvol kan regeer en ignoreer sy sienings oor swart bemagtiging?
Of keer hulle terug na hul vorige party as hulle eers weet waarvoor die VF Plus staan?
Ras het nog altyd ’n rol gespeel in stempatrone in die land. Dis hoekom die DA sukkel om meer as 25% steun te kry, want dit word as ’n wit party gesien, ondanks al die veranderings oor die jare. Veelpartyregering het ons oë geopen en kan lei tot ’n verandering in stempatrone.
• Tabane is politieke redakteur van City Press. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.










