Rapule Tabane: Wurms wriemel uit polisie-blik

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In Suid-Afrika dink ons dis vanselfsprekend dat 'n provinsiale polisiekommissaris die polisieminister van 'n podium af kan aanval.

Dis wat by my opgekom het nadat lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, kommissaris van polisie in KwaZulu-Natal (KZN), Senzo Mchunu, die polisieminister, en senior polisiebeamptes daarvan beskuldig het dat hulle kop in een mus is met misdadigers.

In die meeste lande, veral in Afrika, sou Mkhwanazi teen dié tyd agter tralies gewees het, met aanklagte van opstokery teen die staat, sabotasie en pogings om 'n staatsgreep te inisieer. Hier is hy deur genl. Fannie Masemola, na­sio­nale polisiekommissaris, verseker dat geen stappe sal volg nie en dat sy persoonlike veiligheid verskerp sal word nadat hy gedreig is.

Suid-Afrikaners - moeg vir korrupsie en wantrouig teenoor politici - loof Mkhwanazi vir sy optrede. Sommige dreig selfs dat die land sal brand as iets met hom sou gebeur. Sy gewildheid strek egter verder terug as Sondag se mediakonferensie. Hy word as 'n held beskou omdat die polisie in KZN onder sy bevel in skermutselings al tientalle misdadigers doodgeskiet het.

In 'n land met van die hoogste moord- en misdaadvlakke word die dood van 'n misdadiger gevier sonder dat iemand iets vra oor die omstandighede van die skietvoorvalle. Niemand is bereid om te vra of die polisie nie dalk op 'n moordtog is nie - ondanks bewerings dat daar telkens eerste op hulle geskiet is.

Wat Mkhwanazi Sondag gedoen het, is om in die openbaar af te pak oor die twyfelagtige optrede van die minister en senior leierskap van die polisie. Die media berig al lank oor polisiekorrupsie en verhoudings met misdaadnetwerke, maar sonder enige reaksie.

Pres. Cyril Ramaphosa ontwyk omstredenheid en moeilike kwessies en het tot dusver gerieflik weggekyk in die hoop dat die bewerings net sal verdwyn. Mkhwanazi se uitbarsting het die president ten minste nou gedwing om te erken daar is 'n probleem en hy het onderneem om dit te hanteer.

Moenie dink dit is 'n geveg onder die elite en dat hulle dit uiteindelik sal oplos nie. Ter sprake is ons daaglikse veiligheid. Is Mkhwanazi se bewering dat die taakspan wat politieke moorde ondersoek het sonder rede ontbind is byvoorbeeld waar? As Mkhwanazi se suggestie dat dit 'n politieke besluit was waar is, moet hy dit bewys.

As ons die waarheid soek - sonder vrees of vooroordeel - moet ons ook vrae oor Mkhwanazi vra.

Wat is sy verhouding met Masemola? Het berigte oor Masemola se moontlike inhegtenisname tot Mkhwanazi se beskuldigings gelei? Wat skuil agter die ondersoek na die onwettige koop van geboue waarby Masemola betrek word? En wat het gelei tot die uitval tussen Mkhwanazi en Mchunu?

Dis nog te vroeg om te onderskei tussen die helde en die skurke in hierdie katnes van polisiepolitiek. Mkhwanazi se uitsprake dwing die owerhede wel nou om op te tree en die parlement se besluit om die saak te ondersoek is 'n stap in die regte rigting.

Maar Ramaphosa moet ook nou leierskap toon. In politieke kringe gaan fyn gekyk word of hy teen Mchunu - een van sy groot bondgenote in die ANC, waar faksies steeds 'n groot faktor is - kan optree as dit vereis word. As Ramaphosa nie optree nie, sal dit wys hy stel faksiebelange bo landsbelang.

Ons kan nie misdaad bekamp as die polisie al hul energie op binnegevegte fokus nie. Die idee dat Mkhwanazi teen medepolisiebeamptes beskerm moet word, is 'n belaglike situasie. Sondag se mediakonferensie was net die eerste stap waarmee die blik met wurms in die veiligheidsgroepering geopen is.

• Tabane is politieke redakteur van City Press. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA