Francois Jacobs: ‘’n Regte ram vir sports’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Francois Jacobs praat met Haidee Muller-Isaacs oor liefde, sy grootwordjare en sy nuwe rol as aanbieder.

Sy pa doen dit, sy broer doen dit en hy doen dit sommer lekker. Maar dan gaan dit mos 'n behoorlike treat wees om Francois Jacobs (35) se Laeveld-bry te hoor wanneer hy weekliks die woorde "Ram vir 'n Rus" op die kassie gaan sê.

Ja-nee, dié akteur en TV-aanbieder het mos immers klaar sy eie Nykie (Pretorius) voor die skerms gevind in Op my Eish, en nou help hy ander na liefde soek. 'n Regte ram vir sports.

"Ag, Jacobs-manne het maar net lui tonge," grinnik hy. "Sekere mense vind dit uniek. Maar ek is nie skaam daaroor nie - mense kan maar terg, dit doen tog meer goed as sleg."

Hy het maar 'n onnutsige gesig al van kleins af, erken ‘Ram vir 'n Rus' se nuwe aanbieder, Francois Jacobs. Foto: Willem Botha
Hy het maar 'n onnutsige gesig al van kleins af, erken ‘Ram vir 'n Rus' se nuwe aanbieder, Francois Jacobs. Foto: Willem Botha

Dis regtig nie of die bry 'n geheim is nie, maar daar is wel iets anders wat hy vandag openhartig sal erken: Francois kan om die dood nie 'n das knoop nie - en dis iets wat net sy naastes eintlik weet. "Man, ek weet die haas hardloop om die boom en dan in die gat in, maar dis iets wat ek net nie kan kop nie. En tog is ek 'n baie hands-on, praktiese mens. Ons het maar kakies gedra skool toe, want die Laeveld is baie warm. En daar was altyd 'n vriendin of pêl of my ma wat dit vir my gedoen het. En selfs vandag as ons na spoggeleenthede gaan, kan ek steeds nie my eie das vou nie."

Francois Jacobs, 'n man van aksie en dol oor adrenalien.
Francois Jacobs, 'n man van aksie en dol oor adrenalien.

Sy komvandaan is die destydse Nelspruit (Mbombela) en as leerlinge aan die Laerskool Laeveld het Francois dramaklasse as buitemuurse aktiwiteit gehad, 'n stoutgesig-klong wat homself altyd uit die moeilikheid ge-act het, vertel hy self. Revues was sy kos en hy is 'n adrenalien-man sonder 'n bang haar op sy kop. Op hoërskool het motorsport vir hom 'n ding geword. En toe jaag hy quad bikes by die SA Kampioenskappe.

Maar tog het hy dit nie as loopbaan gekies nie, want drama het harder gepraat as die gewoer van enjins. Op tien het hy by Anita Schönauer se dramaskool op Nelspruit aangesluit en dis waar die drama-liefde afgeskop en vasgeskop het. Ma Sandra het immers die Inniebos-fees saam met Andy Lubbe begin en dis hoeka daar waar die jonger Francois teater ontdek het.

Pa Kobus was eers glad nie ingenome met sy seunskind se oppie-planke-planne nie. Hoekom dan nie liewer die lugmag, of selfs eiendomsontwikkeling en stadsbeplanning kies soos sy pa nie?

"Maar ná 'n lang en harde gesprek het ek hom oortuig. En toe is dit juis my pa se idee dat ek 'n byspeler-rolletjie (met net twee lyne) kry in die plaaslike fliek Hopesville." Hy het toe 'n oorbruggingsjaar geneem en daarna was dit volstoom drama aan die Universiteit Stellenbosch.

En as student het hy sy heel eerste groot dramaproduksie aangepak: 'n Seder val in Waterkloof uit die pen van PG du Plessis, met Albert Maritz as regisseur en saam met groot name soos Chris van Niekerk, Erica Wessels, Waldemar Schultz en Wessel Pretorius.

In Deon Opperman se Donkerland het die rol van Klein Piet de Witt gevolg. Dit is eintlik hier waar hy raakgesien is en dinge vir die jong akteur begin sneeubal het.

Van daar af is hy vort 7de Laan toe. En toe volg Pad na jou Hart, Agent 2000, Binnelanders, Vir die Voëls en KaalgatKarel. Maar hy is oopkop oor die moeilike bedryf wat hy gekies het.

Francois in die rolprent ‘Kaalgat Karel'.
Francois in die rolprent ‘Kaalgat Karel'.

"Ons het ongelooflike talentvolle akteurs, kunstenaars en sangers en daar is nie altyd die geleenthede nie. Dis vir my 'n hartseer saak. Dit verg harde werk, uithou en aanhou . . . en aanhouer wen uiteindelik. Maar dit werk nie so vir almal nie. Dis die mees uitdagende ding om konstant in die bedryf te werk. Mense word soms ook te min betaal vir hul talente en ons kry nie royalties nie. Ek sê altyd freelancing ain't free.

"Baie akteurs sukkel maar. Jy kan nie altyd die hoofrol speel nie en soms neem dit maande of selfs jare tot daai perfekte rol oor jou pad kom. En tussendeur moet ons almal tog steeds aan die lewe bly om ons passies te volg."

Ja, die jonger Francois was maar loskop en 'n rebel, erken hy. "Iets daarvan steek so nou en dan kop uit. Eighteen till I die, sulke stories," grinnik hy ondeund. "Ek het ongelooflik baie as mens en akteur gegroei en regtig nog nooit myself as 'n aanbieder van 'n realiteitsprogram gesien nie; tog het dit nou gebeur. En ek is baie opgewonde daaroor," vertel hy oor sy nuwe joppie as aanbieder van Ram vir 'n Rus wat binnekort op die kassie sal verskyn.

"Geleenthede soos dié een is soos hare aan die voorkant van jou kop - as dit verby is, is daar niks meer vatplek nie. Sulke geleenthede moet j'n mens aangryp."

Maar dit is vir hom effe anders as 'n gewone toneelstuk of selfs 'n rol op die skerms.

"Reality TV verskil. Die groot uitdaging is om nie voor te gee nie. Jy kan nie iemand anders wees nie, net jouself, want die kameras jok nie. En jy moet regtig oukei wees met jou egte, regte self."

En dis nogal ironies: Hy help nou die ramme om Russe te kry, maar hy self het sy Nykie vóór die skerms ontmoet in die program Op my Eish.

"Ek was uit die veld geslaan toe ek hoor dat hulle mý as aanbieder soek. Jong, die liefde kom in snaakse vorme en op snaakse maniere - 'n man moet maar oopkop wees, want soms staan die regte girl reg voor jou. Letterlik. Nooit het ek ooit gedink dat ek die liefde van my lewe op 'n realiteitsprogram sou ontmoet nie. So, as ek vir die ramme raad kan gee, is dit die volgende: Do not be blind to love," sê hy.

"Maar dit help ook nie jy gee voor of sit jou beste voetjie voor nie. Ek het geleer mense kan vinnig deur jou sien as jy nie eerlik is nie."

Francois en sy liefde, Nykie Pretorius, wil nog sommer die wêreld vol reis. Die twee het 'n besonderse liefdesband, vertel die akteur. Foto: Onkgopotse Koloti
Francois en sy liefde, Nykie Pretorius, wil nog sommer die wêreld vol reis. Die twee het 'n besonderse liefdesband, vertel die akteur. Foto: Onkgopotse Koloti

Die supergewilde Ram vir 'n Rus het vir die eerste keer in 2021 op die kassie verskyn en die mense behoorlik aan die gons gehad. Vier Suid-Afrikaanse mans het liefde in Rusland gesoek en ná 12 weke moes hulle besluit of hulle troue hou en of hul paadjies skei.

Vir die tweede seisoen is twee bekende gesigte weer terug! Evgeniia Korchagina en Tatiana Belianicheva was albei deelnemers in die eerste seisoen, maar hul soektog na liefde was nie suksesvol nie. En nou is daar nog 'n kansie vir die gansies: Dié keer kon ons plaaslike manne inskryf om vlerk te sleep by dié twee enkellopende Russe.

Francois: "Shame, die manne soek regtig na ware liefde en dis maar stresvol, maar ek sou sê geniet net die oomblikke. Hierdie keer is daar mos ook groot kulturele verskille en ek kan verseker dat dit vir baie interessante inhoud sal sorg."

Francois is die splinternuwe aanbieder van ‘Ram vir 'n Rus' - dié keer help hy die manne soek na liefde.
Francois is die splinternuwe aanbieder van ‘Ram vir 'n Rus' - dié keer help hy die manne soek na liefde.

Die adrenalienvraat in hom is nog lank nie dood nie, sê Francois. "Ek wil nog die Dakar Man en Masjien-wedren aanpak, 'n boksfliek skiet en dan sommer self die rol van die bokser vertolk."

En ja, daar is selfs groter drome: Hollywood. "Ek het al 'n paar internasionale projekte aangepak, ek is regisseur van flieks en teaterstukke en ja, ek wil, nes baie ander, ook nog Hollywood self ervaar."

• Ram vir 'n Rus word vanaf 12 April Woensdae om 20:00 uitgesaai met heruitsendings op Vrydae om 17:30, Sondae om 18:30 en Maandae om 22:00.

SPELETJIES VANDAG

CTA