KYK | Breyten Breytenbach se vingerverhale

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Breyten Breytenbach praat in Kaapstad oor sy werk en sy lewe. Foto: Le Roux Schoeman
Breyten Breytenbach praat in Kaapstad oor sy werk en sy lewe. Foto: Le Roux Schoeman

Breyten Breytenbach het in Januarie 2014 aan die vooraand van 'n groot uitstalling in Kaapstad van sy kuns met Murray La Vita gepraat oor sy lewe en sy werk.

Breyten Breytenbach kom die vertrek binne met wat hy beskryf as " 'n paar raap-en-skraap-goed" onder sy arm.

Een daarvan is die bundel Vingermaan, wat in 1980 gepubliseer is om saam te val met 'n uitstalling in Amsterdam van sy tronktekeninge. Die tekeninge is vergesel van gedigte deur Nederlandse digters.

"Dit is gevangenistekeninge wat uitgesmokkel is destyds," sê Breyten.

Voor ons lê 'n noukeurige afbeelding van 'n opgevoude tronkkombers.

"Wat vir my interessant is, is hoe die temas naderhand terugkom op verskillende maniere. Die toutjie en die voue en tot 'n mate die ruimte.

" 'n Ou het natuurlik hierdie goed gemaak omdat jy nie iets anders kón doen nie. Dit moes in plek staan van wat jy normaalweg mee besig sou wees - skilderye of so. En dan was jy ook tot 'n mate besig om jou eie museum op te bou. Jy teken goed wat jy min of meer onthou, selfs al kon jy hulle nie hou nie."

Hy blaai om.

"Hierdie is net 'n hotnotsgot wat in die sel ingevlieg het . . . dis potloodtekeninge, almal op A4-papier. Dis een van die redes hoekom ek dit nie meer uitstal nie, tensy dit werklikwaar goed beskerm kan word, want dit het so broos geword."

Breyten se stem is nou rustig, amper teer. Daar is die effense bry. Maar daardie stem kan in 'n oogwink heftig en somber word, veral as hy hom uitlaat oor wat hy beskou as die stommiteite van byvoorbeeld politici.

'n Gesprek met die man wat reg oor die wêreld beskou word as een van die grootste skrywers en kunstenaars van ons tyd (die New Yorker het hom beskryf as "an Afrikaner Dante"), word gekenmerk deur 'n wye doek waarop gelyk eenvoudige en speelse mededelings, én ingewikkelde metafisiese begrippe naas mekaar verskyn.

Wat die luisteraar ook sal beleef, is 'n vonkel in sy oog, die sardoniese blik, en ironie wat hy veral teen homself opstel.

Sy hand rus op 'n tekening. Waarna ons nou kyk, is 'n skets van 'n man se kop: geen baard, die pupille is groot. Presies tussen die oë is daar 'n klein ronde uitstulping soos 'n derde oog of 'n bindi, daardie merkie wat in Indië tussen die wenkbroue aangebring word op die plek waar wysheid sou skuil.

Veral daaraan herken ons die man as die gevangene Breyten Breytenbach wat sewe jaar toegesluit was weens 'n oortreding van die Wet op Terrorisme.

‘Estetiese ontwaking'

Waar hy vandag hier staan - bruingebrand, grys baard, koperarmband waaraan 'n kauri-skulpie geheg is, jeans, ligblou kortmou-linnehemp, leersandale - val daardie punt tussen sy oë weer op.

Onder die kop is 'n brief en twee uitgebrande vuurhoutjies.

"Dis waarskynlik 'n brief, miskien van Yolande (sy vrou)."

Die ontmoeting met Breyten is in 'n huis in Oranjezicht waar sy werke gehou word wat op die Suidoosterfees uitgestal gaan word onder die titel Vingerverhale. Dit is by die 100 werke wat hy oor die afgelope 50 jaar geskep het.

Ons gaan sit en Breyten begin praat oor sy estetiese ontwaking as kind.

‘Ek kan nie onthou dat ons werklikwaar veel visuele materiaal in die huis gehad het nie.' Foto: Le Roux Schoeman
‘Ek kan nie onthou dat ons werklikwaar veel visuele materiaal in die huis gehad het nie.' Foto: Le Roux Schoeman

"As 'n mens nou daai ouderdom is, vergelyk jy mos nie jouself met ander mense nie. Jy kom nie agter dat dit miskien 'n buitengewone belangstelling is nie. Ek onthou dat ek van baie kleins af beïndruk was deur afbeeldings op glanspapier. Dit was waarskynlik ou Victoriaanse engeltjies en pilare en dié soort van dinge. Maar vreemd genoeg, dis alles dinge wat - in my geheue in elk geval - deur my oudste broer (Jan) na my gebring is.

"Ek kan nie onthou dat ons werklikwaar veel visuele materiaal in die huis gehad het nie. Natuurlik, 'n ou word groot in 'n skouspelagtige omgewing: in die Klein-Karoo langs die Breërivier en dan in Riversdal se distrik; die Boland daarna.

"Die eerste tekening wat ek kan onthou wat ek sélf gemaak het, moes in 1948 gewees het toe die Nasionale Party die verkiesing gewen het, want ek onthou ek het 'n spotprent geteken van dr. Malan wat vir Jannie Smuts uitknikker in 'n bokskryt."

Hy glimlag.

"En ek onthou want ons het nog op die werf in my pa se ou motorkar gesit om te luister na die verkiesingsuitslae. Ek was waarskynlik so agt, nege jaar oud.

"En toe daarna het die belangstelling begin optel, waarskynlik hierso van vroeg hoërskooldae in Wellington. Daar was nogal 'n hele paar skilders wat in die omgewing gebly het.

"Ek het gehoor van Jean Welz in Worcester. Ek onthou ek het met my bromponie soontoe gery, maar toe was ek nou al eerste jaar op universiteit. Ek het gaan kuier en vir hom en al die Welz-broers leer ken.

"En toe begin ek baie belang stel in skilderwerk. Die eerste buisies verf wat ek present gekry het, was van ons musiekonderwyser op die dorp, 'n man met die naam van Henry Kuit.

"En ek het by hom musieklesse begin neem en hy het geweet ek stel belang in skilderkuns en ek dink hy het vir my die geld gegee om buisies verf te koop en kwaste en so. Hy het my baie aangemoedig."

‘Daai oorgangsplek'

Ons praat oor sy studie aan die Universiteit van Kaapstad se kunsskool Michaelis en sy vertrek na Europa.

" 'n Ou moet in gedagte hou die sosiale lewe waarin ek betrokke was, het baie gewentel rondom Jan Rabie en Marjorie Wallace en Erik Laubscher en Claude Bouscharain natuurlik; Richard Reeve, Peter Clarke, Ingrid Jonker, Abraham de Vries tot 'n mate; Marius Schoon.

"Dit was daai oorgangsplek tussen politiek, of betrokkenheid dan . . . aktivisme, en sê nou maar die boheemse leefstyl.

"En dan werklike . . . 'n mens het die gevoel gehad hier het jy iets gehad wat werklik vir jou oopgaan. Vir die eerste keer kom ek in aanraking met die vertaalde werk van Paul éluard, Suid-Amerikaanse digters, die goed waaraan Uys gewerk het, en natuurlik Jan - Jan was 'n absolute mentor, op állerlei maniere."

Georges Marie Lory, die vertaler van Breyten se poësie na Frans, beskryf in Painting the Eye (David Philip, 1993) hoe hy en 'n groep kunstenaarsvriende van reg oor die wêreld op 'n nat Januarie-middag in 1976 aan die voetheuwels van Montmartre in 'n binnehof (omgeef van 'n vreemde stilte) byeengekom het. Hulle het van daar na Breyten se ateljee gegaan waar 'n Bulgaarse televisie-opname gemaak is waarin hulle protes aangeteken het teen Breyten se vonnis en sy eensame aanhouding.

Hy skryf hulle was dit eens dat Breyten onder die grootstes in die internasionale kunsgemeenskap tel en hy (Lory) was daarvan bewus dat Breyten se skilderye "ligjare verwyder was van die smaak van Wit Wellington".

Lory werp lig op die verhouding tussen Breyten se skryfwerk en sy skilderwerk deur sy beskrywing van 'n selfportret wat Breyten op die muur van sy ateljee geverf het.

" . . . verfkwas in die een hand en veer in die ander een, met daarbo die woorde werkwantdienagkomnader . . . Breyten word deur die beeld opgesom: sy konstante behoefte om te skryf én te verf; die plesier wat hy daaruit put om woord en lyn te meng."

Hy deel ons dan mee dat iemand wat die ateljee gehuur het terwyl Breyten in die tronk was, die beeld doodgeverf het.

"Hy is in Katalekte! Dis daardie swart-wit-foto'tjie. Ek dink hy is verkeerd as hy praat van 'n veer, maar ek het definitief die kwas in my hand. Jy sal sien, ek dink daar is 'n bottel daar en dit is waarskynlik terpentyn, maar ek dink amper een van die bottels bevat nog 'n bietjie boegoeblare," sê Breyten.

Sy ouers

Hy vat die bundel en kyk na die foto.

"Wie sou die foto geneem het? Dit moes Yolande gewees het wat dit geneem het. In elk geval . . . Alles is min of meer daar: die vuurhoutjies en die pyp en die dinge . . . daar lê die pyp ook, ja."

Wat het sy ouers van sy kuns gedink?

"My ouers het 'n baie gesónde omgang met kuns gehad. Ek het onder Lippy Lipschitz gewerk by Michaelis. Hy was 'n besonderse persoon gewees. Ek is nie van aanleg 'n beeldhouer nie, maar ek onthou ek het so 'n paar beelde gemaak en my ma het dit eenvoudig gebruik om die deur oop te hou of as deel van die blompotte."

Hy lag.

"En net so met die skilderye. Ek onthou my ma het . . . ek dink nog dit is een van die mees wonderlike estetiese uitsprake wat 'n mens kan maak: ‘Maar jy het mos nou genóég skilderye gemaak. Jy kan 'n hele kamer vol hang.'

"Hulle moes in hulle harte van harte gedink het dié man is totáál van sy kóp af. Hoe gaan hy ooit 'n lewe kan maak?

"Maar ek het nooit gevoel daar is enige afkeer of kritiek nie; hoegenaamd nie, nie polities nie, nie literêr nie, dit was 'n soort van 'n onvoorwaardelike en byna 'n organiese solidariteit. My pa wat byvoorbeeld bedank uit die kerk net omdat die dominee 'n groot preek gaan afsteek het teen die Sestigers - dié soort van ding.

"Hy het dit nie eers gehoor nie; hy was aan die slaap in die ouderlingebank, maar toe die ander ouderlinge nou agterna met hom kom simpatiseer, toe bedank hy nét daar."

Breyten die skilder is amper soos 'n soort Rodriguez-figuur: hy is in die buiteland baie bekender as in Suid-Afrika, sy geboorteland.

Hy noem al die galerye, museums en versamelings van regerings waar sy werk 'n tuiste gevind het. Al die uitstallings regoor die wêreld.

Sy stem raak hees. Hy het pas van brongitis herstel.

"Dit is net iets wat nóóit met my hier sou gebeur het nie en wat waarskynlik ook nie sin sou gehad het nie."

In Painting the Eye skryf Breyten om 'n potlood te gebruik, is soos om Afrikaans te praat.

"Dit is so, ja. Baie beslis. Ja, potloodtekeninge is definitief Afrikaans. Ek wonder . . . Ek moet dit tog eendag vir myself probeer uitwerk; ek weet nie."

Daar is niks, sê hy, wat tussen jou en die potlood kom nie.

* Breytenbach is Sondagoggend in Parys oorlede.

SPELETJIES VANDAG

CTA