Wat ons eet, kan 'n vernietigende uitwerking op ons gesondheid én op die planeet hê. James Collier vertel aan Murray La Vita hoe ons dít kan vermy.
Die aanlyn gesprek met James Collier, wat hom in sy huis in Corby, Northamptonshire, bevind, begin by waar sy belangstelling in kos en voeding (nutrition) vandaan kom wat daartoe gelei het dat hy hom as voedingskundige bekwaam het.
Die 52-jarige Collier is 'n aantreklike man, besonder gespierd met tatoeëermerke op sy arms, priemende grysblou oë en 'n kaalgeskeerde kop. Ondanks dié effens intimiderende uitsmytervoorkoms is hy 'n vriendelike (amper saggeaarde) man. Die gesprek vind plaas teen die agtergrond van sy boek Well Fed: How modern diets are failing us (and what we can do about it), wat onlangs verskyn het.

"Toe ek agt jaar oud was, is borskanker by my ma gediagnoseer. Dit was die eerste keer dat ek die K-woord gehoor het," sê hy.
Ná haar diagnose het sy ma 'n vegetariër geword.
"Daar is toe baie op kos gefokus en gepraat oor die waarde van voeding en hoe belangrik dit is om fisiek aktief te wees."
Dit was dan ook deels vanweë sy ma se invloed dat hy voeding gaan studeer het. In die jaar waarin hy met sy studie begin het, het sy weens die kanker gesterf.
Wat ook 'n rol gespeel het, is dat hy op skool geboelie is en op 16 ernstig in die gimnasium begin oefen het.
"Ek wou alles in my vermoë doen om groter spiere te ontwikkel. Toe ek dus twee jaar later universiteit toe is, het ek besluit om my passie, naamlik voeding, te kies en in daardie rigting te studeer."
Hy het aanvanklik as dieetkundige vir die Britse gesondheidsdiens (NHS) gewerk voordat hy mettertyd sy eie ondernemings ontwikkel het en uiteindelik medestigter van die maatskappy Huel geword het. Dit is, ironies genoeg sou 'n mens kon sê, 'n maatskappy wat maaltydsvervangingsprodukte vervaardig - hy verkies om daarna te verwys as volledige kosse [complete foods], en beskryf dit as "gerieflike dog gesonde kos".
"Julian Hearn, die stigter van Huel, het met die idee vorendag gekom om geriefskos te vervaardig en my gevra om 'n resep te skep. Hy het gevind die bereiding van gesonde kos verg baie moeite. Wat hy gewonder het, is of ons nie voedsame kos in 'n skommel-vorm [shake] kan vervaardig nie.
"Sy ingesteldheid was as ons proteïene in 'n skommel kry, dan kan ons seker alles in 'n skommel kry. Ek het toe met 'n formule vorendag gekom vir heeltemal plantgebaseerde skommels met geen diereprodukte in nie. Dit is 'n volledige voedsel in poeiervorm. Ons het dus hoofsaaklik na volledige gerief en voeding gekyk, maar ook na bekostigbaarheid en minimale impak op die omgewing."
Volgens die flapteks van Well Fed is Collier "op 'n missie om die mites oor kos en voeding te ontmasker en om te onthul waarom dit wat ons eet nie net 'n vernietigende impak op ons gesondheid het nie, maar ook op ons planeet".
"So, ek is 'n menslike voedingkundige en 'n bietjie van 'n wetenskap-nerd. 'n Paar jaar nadat ons met Huel begin het, het ek ook begin kyk na die impak van ons produkte op die omgewing. Ek het soort van geweet klimaatsverandering is 'n ding, maar het nie geweet hoe bekommerd ons moet wees nie. Ek het dus na die wetenskap gekyk.
"Ek het ook begin kyk na die etiek van sommige van die boerderystelsels. Nou, ek is nie 'n veganis nie, maar ek kyk in Well Fed na albei kante van veganisme.
"Ek eet wel 'n klein bietjie vleis. In 2019 het ek verander wat ek eet om die hoeveelheid diereprodukte wat ek inneem, te verminder en ook om te probeer sorg dat die vleis wat ek wel eet meer eties verkry moet wees. Ek besef natuurlik die woord eties is subjektief. Wat jy as eties beskou, kan anders wees as wat ek as eties beskou."
Kontemplatiewe voeding
In die pandemie het hy verveeld geraak en 'n paar essays begin skryf.

"Ek het gedink ek sal in my skryfwerk my ingesteldheid tot kos en manier van eet, en om op 'n verskeidenheid dinge ag te slaan - ons welstand, die omgewing en etiek - kontemplatiewe voeding noem, want ek wil hê mense moet dink oor wat hulle eet.
"So, ek het hierdie opstelle geskryf en daar was uiteindelik drie, met die fokus op onderskeidelik gesondheid, volhoubaarheid en etiek. Toe sê ek aan my vrou. ‘O, ek dink hier is 'n boek en dit moet gebou word op vier pilare: Om te eet met jou gesondheid in gedagte, jou psigiese gesondheid en dan volhoubaarheid en etiek.'
"Ek het toe aan die boek begin skryf, en toe het ek besef daar is 'n vyfde pilaar. Dit gaan nie net oor wát ons eet nie, maar oor hóé ons eet en saam met wie ons eet, wat te doen het met die konsep van maaltye en dat mense deesdae altyd inderhaas en op 'n drafstap [on the go] eet.
"Laat ek sommer nou self die olifant in die vertrek uitwys: Ek produseer voedsame, gerieflike kosse wat mense vinnig en maklik kan eet. En hier praat ek van die waarde daarvan dat mense saam maaltye nuttig. Die punt wat ek probeer maak, is natuurlik: Ja, wanneer dit moontlik is om saam met ander mense te eet, doen dit, maar mense kan dit nie altyd doen in hierdie moderne en vinnige samelewing nie."
Collier is bekommerd oor wat hy as 'n groeiende beweging teen wetenskaplikheid beskou en waarvan iemand soos RF Kennedy jr., die Amerikaanse minister van gesondheid, 'n verpersoonliking is.
"Ons kan nie wetenskap verwerp nie. Dit is onrealisties om van almal te verwag om terug te keer na die eetpatrone van selfs net 'n paar generasies gelede."
Hy is 'n ondersteuner van geneties-gemanipuleerde produkte, sellulêre landbou en regeneratiewe boerdery waarin moderne metodes gebruik word.
"En natuurlik volledige kosse soos wat Huel vervaardig, want dit is een van die vele ratte in die toekoms van die kosstelsel."
‘Nie haalbaar nie'
Hoewel hy wil hê mense moet nadink oor hul koskeuses, wil hy nie hê dit moet te veel van 'n "kognitiewe las" wees nie.
"As jy moet dink aan élke koskeuse wat jy maak, is dit net nie haalbaar nie. Maar as jy 'n ligte bewustheid daarvan het, besef jy byvoorbeeld sekere kosse het 'n groter omgewingsimpak. Waar kom dit vandaan?
"Kom ons neem die tipiese voorstedelike Suid-Afrikaanse braai. Julle doen dit baie beter in Suid-Afrika; hier by ons word dit waarskynlik op 'n patio en met 'n gasbraaier gedoen.
"So, die vleis wat gebraai word, kom waarskynlik van die supermark af en is in sellofaan verpak. Dis gewoonlik die man wat braai, 'n gebruik wat spruit uit 'n vroeë tyd toe mans gaan jag het.
"Ek gebruik daardie aanhaling van John Berger: ‘Het jy al ooit 'n dier in die oë gekyk?' Omdat mense dit nié doen nie, is daar 'n breuk, 'n ontkoppeling tussen ons en die kos wat ons eet.
"So, daar is hierdie massiewe kognitiewe dissonansie van mense wat nie weet waar hul kos vandaan kom nie. Wees net bewus, leer daaroor en wees meer bedag op wat jy eet. En ek wil hê mense moet weet dat die koskeuses wat hulle maak ook ander mense sal beïnvloed. Ons is groter as onsself."
Hy neem in Well Fed die kwessie van hoeveel diereprodukte ons behoort te eet, in oënskou.
"Ons het gesien om voorkeur te gee aan plantaardige kos hou noemenswaardige voordele vir die omgewing in. Maar ons het ook gesien mense het 'n inherente vleislus. Dit is derhalwe verstaanbaar dat baie mense nie graag hul biefstuk-etery sal wil inkort nie. Die feit bly egter staan: Alles dui daarop dat ons minder vleis moet eet; dat ons nie naastenby soveel vleis nodig het soos wat ons eet nie.
"Daar is egter twee dinge wat belangriker is as om vleis te vermy. Een is moenie kos mors nie en die tweede is: Moet jy regtig so baie eet?"
Dit is die moeite werd om kennis te neem van die term reducetarianism, wat deur Brian Kateman, stigter van The Reducetarian Foundation, geskep is.
"Dit kom daarop neer dat jy minder vleis, suiwel en eiers eet, maar dit nie heeltemal uit jou dieet sny nie.
"Reducetarian, fleksitariese, vegetariese, pesko-vegetariese, en veganistiese (100% plantgebaseer) eetpatrone is almal voorbeelde van kontemplatiewe diëte indien hulle gegrond is op 'n rasionele oorweging van voedingswaarde en welstand, en 'n minimale impak op ander mense en die omgewing."
‘Ver van volmaak'
Collier stem nie saam met die beskouing dat die globale voedselstelsel "gebreek" is nie. Hy meen hoewel dit ver van volmaak is, het dit oor die laaste paar dekades verbeter.

"Maar in ander opsigte is dit besig om in die verkeerde rigting te beweeg: Ons omgewing word verwoes, diere word toenemend uitgebuit en metaboliese siektes wat die gevolg is van oordadige eetgewoontes, kom algemeen voor.
"Ondanks die feit dat daar oorgenoeg kos is om elke mens op aarde te voed - trouens, soveel kos dat meer as 'n miljard ton daarvan jaarliks vermors word - ly miljoene mense steeds aan wanvoeding. Die wyse waarop ons gewasse verbou, verminder dikwels hul voedingswaarde, maar terselfdertyd maak mense wat andersins sou gesukkel het om hul gesinne te voed, staat op die massa-verbouing van kos.
"Die voedingswaarde van wat ons eet, is vir die meeste mense heeltemal ontoereikend en die wyses waarop ons kos produseer, dra by tot die verwoesting van die omgewing en veroorsaak onnodige lyding van diere."
Collier meen een van die maklikste dinge wat 'n mens kan doen om die skadelike impak op die omgewing te verminder, is om die manier waarop ons eet, te verander.
"Dit is bekostigbaar, in werklikheid kan jy geld spaar deur dit te doen. Ja, jy kan 'n elektriese motor koop of sonpanele gebruik, maar hoekom nie fokus op die een ding wat jy maklik kan doen nie, en dit is om die manier waarop jy nou eet te verander.
"Ek vra niemand om veganisties te wees nie. Ek vra hulle nie eens om vegetaries te wees nie, maar eet byvoorbeeld minder vleis en daarby vleis wat afkomstig is van diere wat onder meer etiese omstandighede aangehou word."
‘Saterdagaand eet jy KFC'
Die belangrikste boodskap wat hy deur Well Fed wil oordra, is dat mense moet besef die voedselstelsel is ingewikkeld.
"Daar is te veel swart-wit-denke. Kos is nie goed of sleg nie. Diëte kan gunstig of meer gunstig wees. As jy byvoorbeeld elke dag McDonald's, Burger King en Kentucky-braaihoender eet, maar Saterdagaand eet jy 'n okkerneut-en-salm-slaai en dan dink jy dít gaan jou gesondheid bevorder . . . Dit gaan nie regtig gebeur nie, gaan dit?
"Maar kom ons swaai dit om. Gestel jy volg deur die week 'n dieet ryk aan volgraan, slaaie, neute, sade, vrugte en groente, maar Saterdagaand eet jy KFC. Gaan dít werklik al die voordele van jou voorafgaande dieet ongedaan maak? Nee, dit gaan nie.
"Deur te besef dinge is ingewikkeld en genuanseerd, en dít te omarm, is wat ons moet doen. Hopelik sal dit daartoe lei dat mense oper is en meer ontvanklik vir ander idees. Natuurlik gaan daar meningsverskille wees. Daar is byvoorbeeld akademici en voedingskundiges van wie ek verskil, maar ek verskil op 'n respekvolle wyse van hulle en my standpunte is geanker in bewyse eerder as wat hulle fundamentalisties of ideologies is."










