VRAAG: Ek is 10 weke swanger en is ontsettend naar. Ek hou niks in nie en is ook lus vir niks nie. Moet ek bekommerd wees oor my baba? Hoe sal my kind die nodige voedingstowwe kry as ek skaars iets eet of drink?
ANéL KIRSTEN ANTWOORD: Naarheid is baie algemeen in swangerskap - 70 persent van amperma's ly daaraan!
In die geval van hiperemese, 'n mediese toestand wat hewige naarheid en braking behels, kan dit inderdaad ernstige implikasies vir die ongebore baba hê en laat dit 'n mens gewoonlik in die hospitaal beland. Matige naarheid en braking van tyd tot tyd is egter nie skadelik vir jou baba nie.
As jy vir 'n kort rukkie nie al die nodige voedingstowwe inkry nie of in jou eerste trimester nie gewig aansit nie (en selfs gewig verloor) is daar ook nie rede tot kommer nie. Hopelik sal jy binnekort beter voel en gewig begin aansit.
Dit is egter baie belangrik dat jy gehidreer bly. Let op die kleur van jou urine: Dit moet lig wees en nie soos appelsap lyk nie. As dit te donker is, is jy besig om te ontwater en moet jy meer vloeistowwe inneem. Ontwatering is nie goed vir jou baba nie.
Die belangrikste voedingstowwe sluit in kalsium, yster, folaat, cholien, vitamien D en omega 3's. Yster is veral belangrik vir breinontwikkeling en die vinnigste breinontwikkeling vind in week 10 en 18 plaas.
Dis dus uiters belangrik dat jy juis dan genoeg yster inkry. Omega 3 is 'n ander problematiese aanvulling: een uit 10 swanger vroue kry nie genoeg tydens swangerskap nie weens die soort kos wat hulle eet.
Omega 3 is veral van die tweede trimester af belangrik. Maak dus seker jy kry genoeg deur jou dieet, maar ek sal 'n aanvulling aanbeveel om optimale inname te verseker - drink 200-300 mg DHA per dag. As die naarheid so erg is dat dit jou daarvan weerhou om 'n gebalanseerde dieet te volg of as dit ná die eerste trimester voortduur, beveel ek 'n swangerskapsaanvulling sterk aan om te vergoed vir die voedingstowwe wat jy verloor.
Die meeste dokters raai hul pasiënte aan om die swangerskapsaanvulling te staak as hulle dikwels naar word, maar ek stem nie saam nie. Baie voedingstowwe is nodig om 'n baba te maak en as jy nie genoeg inkry nie, kan tekorte ontstaan.
'n Foliensuuraanvulling is veral in die eerste 12 weke belangrik wanneer organe en die senustelsel gevorm word. My raad aan swanger vroue is om hul aanvullings saans voor hulle gaan slaap te drink ten einde simptome van naarheid te probeer verminder. As die naarheid nie wil wyk nie, kan jy miskien 'n ander aanvulling kies wat minder yster bevat, want te veel yster kan die naarheid vererger.
Soms help dit om 'n vitamien B6-aanvulling te drink (nie meer as 100 mg per dag nie), of 'n swangerskapsaanvulling wat baie vitamien B6 bevat - dit kan ook die naarheid help verlig.


















