Proust met Martelize Brink

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Martelize Brink is 'n omroeper, radio-regisseur en TV-aanbieder.

Martelize Brink.
Martelize Brink.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Dat ek 'n werk doen wat ek regtig geniet en hopelik deur die werk 'n verskil maak.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

'n Glas wyn, voor die vuur by die huis, reg om lekker te braai. En om te weet al jou verantwoordelikhede is afgehandel en almal vir wie jy lief is, is oukei.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Geweldig positief.

Wat is jou gunstelingberoep?

Om uit te saai bly die grootste voorreg onder die son. Om op radio te wees is die beste plek.

Wat is jou kosbaarste besitting?

'n Uitgawe van my pa se heel eerste potjiekosboek.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

Uit 'n religieuse oogpunt sal God die grootste liefde van my lewe wees en dan sekerlik Marius, hy bly die liefde van my lewe.

Wat is jou gunstelingreis?

Die Sperrgebiet in Namibië. Dis die mooiste en beste ervaring ooit.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Van hardegat tot veerkragtigheid.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Op 'n vakansie saam met Marius voor 'n vuur, besig om te braai met die see as uitsig.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Negatiwiteit en mense wat eenvoudig nie die perspektief van 'n ander persoon kan insien nie.

Wat is jou grootste vrees?

Dat die mensdom homself en die natuur, uit trots en mag, gaan uitwis.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Om vir my en Marius vir my verjaardag seekos te koop en 'n geweldige goeie wyn.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Mense wat deur bedrog kwesbares van ons samelewing, soos pensioenarisse, inloop om hulself te verryk.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek nie my liggaam genoeg waardeer het toe ek jonger was vir wat my liggaam toe was nie.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Ek sou graag 'n baie goeie tennisspeler wou wees en die talent om stil te sit sal wonderlik wees. En ook om nee te kan sê.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Ek bly op een van die mooiste plekke in die wêreld, die Paarl. Maar enige plek in Suid-Afrika met 'n mooi see-uitsig - ek sal daar ook bly. Maar ek moet net ook kan braai, asseblief.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Dat ons kos weggooi en daar is mense wat honger gaan slaap en kinders wat doodgaan van die honger.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Regverdigheid...en intellektuele en emosionele intelligensie. Dis die goue medalje van karaktereienskappe.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Iemand wat sterk staan in haar eie vroulikheid en besef sy kan opstaan vir haarself, 'n goeie leier wees en nog steeds vroulikheid behou en weerspieël.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek sê konstant jammer en dis vir my baie moeilik om nee te sê.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

'n Tekort aan empatie.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Egtheid.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Seker maar elke karakter wat Morgan Freeman nog ooit vertolk het.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Alan Paton op 'n intellektuele vlak en vir vermaak 'n Deon Meyer.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Ek identifiseer nie regtig met 'n geskiedkundige held nie, maar ek dink wel iemand soos Marie Curie, wat 'n vrouewetenskaplike was in 'n tyd waar dit ongekend was, behoort meisies vandag nog te inspireer.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Mense wat mediese sorg en kos in oorlogsgebiede versprei.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

Die ma van 'n paar kinders wat drie-uur in die oggend moet opstaan, die kinders moet regkry vir skool onder moeilike omstandighede en sonder geriewe, en dan ver moet reis om by die werk te kom en laat vanaand weer terug.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Om perfek te probeer wees.

Wanneer vertel jy leuens?

Ek is altyd 'n paar kilogram ligter. En hoeveel glase wyn ek gedrink het.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

"Natuurlik" en "seker nie te ver nie".

As jy iets omtrent jouself kan verander, wat sal dit wees?

Ek sal graag meer in die oomblik wil leef en nie heeltyd stres oor die toekoms nie.

Wat is jou gunstelingname?

Ek het nog altyd gedink my ma se naam is een van die mooiste name: Cheryl.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Vinnig.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Perd.

Wat is jou motto?

Lééf. Die lewe is kort, jy beter nou lééf.

SPELETJIES VANDAG

CTA