Sarel van der Walt, noordelike sportredakteur van Netwerk24, se naamlyn verskyn al 43jaar in Beeld. Hy het in 1981 as student by Beeld begin vakansiewerk doen en begin 1986 voltyds ingeval.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Londense verteenwoordiger van Media24, die drie Olimpiese Spele waaroor ek onder meer verslag gedoen het, die voorreg om as 'n assistentredakteur van Beeld 'n baie sterk span in die Pretoria-kantoor meer as sewe jaar lank te kon lei, asook die 32Comrades-wedlope waaroor ek al verslag gedoen het.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
'n Besoek aan die Krugerwildtuin of die Limpopo-vallei.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Goed.
Wat is jou gunstelingberoep?
Koerantman.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My 25jaar oue Isuzu 250D.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My vrou, Marinda.
Wat is jou gunstelingreis?
Elke reis het sy eie bekoring en stories.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek kan onder spertyd-druk funksioneer.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
My amper vier jaar as Beeld se verteenwoordiger in die ou Verre Noord-Transvaal (1989-1992), nou Limpopo, en my drie jaar in Londen (2003-2005).
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Lewer.
Wat is jou grootste vrees?
Wat ek vroeg soggens gaan doen as Beeld en Rapport nie meer as koerante verskyn nie.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Die koop van boeke.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Ek verag niemand nie, maar daar is baie wat my de moer in maak.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Dat ek nie tik op skool geneem het nie. 'n Kursus in snelskrif sou ook baie gehelp het.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Om 'n mooi handskrif te hê en nie hoef te sukkel om my eie handskrif (onder druk geskryf) te lees nie?.?.?.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Hoedspruit.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Oorloë, werkloosheid en ongelykheid.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Medemenslikheid.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Medemenslikheid.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
My akute luiheid wat soms deurslaan.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Selfsugtigheid.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Die storie van die lewe wat ons saam beleef het en nog sal beleef.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Weet nie.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
P.G. du Plessis, Chris Barnard en Dana Snyman.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Te veel om op te noem.
Wie is jou helde in die ware lewe?
My oorlede pa en ma.
Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?
Niemand.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Erge netheid.
Wanneer vertel jy leuens?
As ek iemand nie wil seermaak nie.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
"Ag f**."
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Sou graag die Comrades wou aanpak, maar is nou te oud (en te lui) daarvoor.
Wat is jou gunstelingname?
Jan en Ellis (ons twee gemmerkatte) en Williempie en Mienkie (die twee honde).
Hoe sal jy graag wil sterf?
Rustig in my slaap.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
'n Troeteldier in die Van der Walt-huishouding.
Wat is jou motto?
Plaas jouself in iemand anders se skoene.
















