Proust met Waldimar Pelser

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Waldimar Pelser is die M-Net-kanaaldirekteur: Premium-kanale. Hy vier vandeesmaand saam met kykers van oraloor kykNET se 25ste bestaansjaar.

Waldimar Pelser.
Waldimar Pelser.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Om 'n marathon te voltooi, weliswaar teen die stadigste pas wat nog ooit aangeteken is.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Om met 'n boek in die hand deurdringende reën op die dak te hoor val.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Peinsend maar dankbaar.

Wat is jou gunstelingberoep?

Die een wat ek gelukkig genoeg is om nóú te beoefen.

Wat is jou kosbaarste besitting?

Herinneringe aan reise en my notas aan myself oor die jare in joernale.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

Daardie enkele vriende wat dekades al in my lewe is.

Wat is jou gunstelingreis?

Die mees onlangse een, omdat ek my in vars herinneringe kan verlekker, en die een wat voorlê, omdat dit nog in misterie gehul is. My mees onlangse reis was met my jonger suster, Zané, na Praag, Berlyn en Riga; in Desember lê 'n week met drie vriende op Réunion voor.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Ek gaan maklik oor na woord of daad.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Kaalvoet op 'n klip met sononder in die Visrivier-canyon in Mei, whisky in die hand.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Oneerlikheid.

Wat is jou grootste vrees?

Om hegte vriende te verloor.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Ek reis myself bankrot.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Enige deugpronker wat vir ander wil vertel hoe om te dink.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek nie meer gelees het op skool en vroeër in my lewe vry genoeg gevoel het om te begin vry nie!

Watter talent sou jy graag wou hê?

Ek sou die tjello wou kon speel.

Waar sal jy die graagste wil bly?

In 'n huis met groot vensters omring deur groen waar ek net sóms alleen en in stilte is.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Om nie nuuskierig te wees nie.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Intelligensie.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Intelligensie.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek is nie altyd die beste luisteraar nie.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Ongeërgdheid.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Geduld.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Digby Kilgore in The Covenant of Water.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Philip Roth, Karel Schoeman.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Ek bewonder die durf van George Orwell.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Die skrywers van boeke en draaiboeke wat my herinner hoe wonderlik die lewe is en kan wees.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

My ewig geduldige en lesende ma, wat snags wakker lê en wonder of haar kinders oukei is.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Om te reëlgebonde te wees.

Wanneer vertel jy leuens?

Beslis nie in 'n Proust-vraelys nie.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

"Ek".

As jy iets omtrent jouself kan verander, wat sal dit wees?

Ek is soms te impulsief.

Wat is jou gunsteling­name?

Sterk Afrikaanse name. Ek sukkel bietjie met daardie kombinasie-name van ma, pa, ouma en oupa se voorname met 'n koppelteken én 'n aksent.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Skielik.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Arend.

Wat is jou motto?

Moet nie huiwer nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA