Sy ryg die pryse in, maar vir Suzanne Paxton, aanbieder van Spektrum en Kommentaar op RSG, is die grootste prestasie om verandering teweeg te bring. Hanri Wondergem het met haar gesels.
Die tafel by 'n koffiewinkel in 'n Johannesburgse voorstad is vir "enige tyd ná 13:00" bespreek. "Want ek saai mos tot 13:00 uit," het Suzanne Paxton gesê.
Die sprankelende krulkop gesels vrolik en opgewek, salig onbewus van die nuuskierige oë wat na haar loer en ore wat gespits word omdat hulle waarskynlik haar stem herken. Sy is immers die vrou agter die mikrofoon in twee aktualiteitsprogramme op RSG - Spektrum en Kommentaar.
Op die lug is sy die toonbeeld van selfvertroue wanneer sy oor nuus en sake van die dag berig. Maar vandag kriewel sy amper ongemaklik omdat sy nou die onderwerp van bespreking is.
"Foeta Krige (voormalige uitvoerende regisseur van nuus- en aktualiteitsprogramme op RSG) het altyd gesê 'n joernalis is nooit die storie nie . . . gewoonlik is die storie iets of iemand anders. Ek is net daar om die stories raak te sien en só aan te bied dat ander mense die stories kan hoor."
Wanneer sy eers oor haar werk begin gesels, ontspan sy dadelik.

Ek gebruik klank om stories te vertel. Dis die enigste ding waaroor ek voel ek arrogant mag wees - ek weet hoe om met klank te werk.
"Ek gebruik klank om stories te vertel. Dis die enigste ding waaroor ek voel ek arrogant mag wees - ek weet hoe om met klank te werk. As ek self sit en tjank terwyl ek 'n storie skryf, weet ek die storie gaan reg tref."
En dit hét trefkrag. Paxton is onlangs deur die Nasionale Persklub as 2023 se ondersoekende radiojoernalis van die jaar aangewys.
Dit, sê sy, is danksy 'n reeks oor klimaatsverandering wat dodelike gevolge in Kakamas in die Noord-Kaap gehad het toe 'n hittegolf (en gevolglik hitte-uitputting) sewe plaaswerkers se lewe geëis het.
Die reeks het internasionaal opslae gemaak.
"As ek 'n storie doen en daar was 'n uitkoms wat mense help, is dit 'n goeie dag. Ek wil hê die stories wat ek vertel, moet iets beteken."
Haar reeks oor die hittegolf het die Universiteit van die Witwatersrand se Global Change-instituut laat regop sit.

"Hulle het gesê daar is 'n draaipunt gemis. Ek kry sommer hoendervel as ek daaraan dink. Hulle gaan 'n wetenskaplike verslag daaroor uitreik en daar gaan 'n taakgroep tussen Suid-Afrika, Botswana en Namibië saamgestel word om afgeleë plekke te besoek om vas te stel waar hulle nog draaipunte gemis het."
Paxton sê toe sy dié reeks voltooi het, het sy dadelik geweet dit is 'n wenner.
Sy het ook al ander pryse in haar loopbaan ingeryg - ATKV-Mediaveertjies in 2016 en 2017, sy was Sanparke en die departement van omgewingsake se omgewingsjoernalis van die jaar in 2017-'18, die SAB het haar in 2019 bekroon vir haar omgewingstories, verlede jaar het sy die Kudu-prys van Sanparke as omgewingsjoernalis van die jaar ontvang.
Paxton vertel reeds jare lank stories van waterskilpaaie wat op die strand in Sodwana, KwaZulu-Natal, uitbroei.
Haar "voorliefde vir die diertjies en die omgewing" raak alle aspekte van haar lewe. Dit het ook gelei tot haar gunstelingtydverdryf wanneer sy nie agter die mikrofoon is nie - skubaduik.
Paxton vertel reeds jare lank stories van waterskilpaaie wat op die strand in Sodwana, KwaZulu-Natal, uitbroei.
"As 'n mens stories doen, raak jy deel van die gemeenskap en jy begin op ander maniere ook help. Die mense in Sodwana het gevoel ek moet oor die hele Unesco-gebied berig, en dit beslaan ook die mariene deel. 'n Mens kan nie die hele storie vertel as jy nie die hele prentjie sien nie."
Paxton lei aan 'n oorerflike hartkwaal en het aanvanklik nie gedink sy sal kan of mag skubaduik nie. Toe haar span dokters egter die groen lig gee, het sy dadelik 'n duikpak aangeskaf en gekwalifiseer as skubaduiker.
"Op 40, 'n maand voordat Covid-19 ons ingeperk het, het ek geleer duik."
Sy beskryf skubaduik as "lewensveranderend".
"Ná daai eerste seeduik was ek die moegste wat ek al in my hele lewe was. Ek het uit daai boot op die strand neergeval en daar gelê en hyg. En ek was nog nooit so bang nie, nie eens op die lug nie."
Maar 'n ander wêreld het vir haar onder die water oopgegaan. Nou gryp sy elke moontlike geleentheid aan om te skubaduik.
"Dis net fantasties. 'n Stokperdjie het ontwikkel uit my werk en die omgewingstories wat ek doen."
Wanneer sy nie skubaduik nie, hou sy van pottebakkery en skilder. "Dit maak my brein stil. Dit maak my kop skoon."
Ingeligte luisteraars
"Ek stel vir myself 'n sekere standaard waaraan programme moet voldoen. Kommentaar was altyd vir my 'n reuse-uitdaging. Dis 'n spesialisprogram. Jy moet 'n sekere vlak van begrip van politiek, van nuus, van die wêreld om jou hê."
Sy bieg die program en sy in-diepte-ontleding van die week se belangrikste nuusgebeure was (en is steeds) intimiderend. "Ek dink ek het aan die begin (twee jaar gelede) ses nuwe grys hare ná elke program gehad.
"Kommentaar se luisteraars is nie dom nie. Dis luisteraars wat wéét, so jy as aanbieder moet ook weet. Hulle gaan jou uitvang as jy nonsens praat. Dit het my ses maande tot 'n jaar gevat om gemaklik te raak met die program."
Maar voel sy nou opgewasse daarvoor?
"Ek voel nou of ek weet hoe om voor te berei vir Kommentaar. Ek benader dit meer as fasiliteerder, nie onderhoudvoerder nie. Ek wil debat stimuleer; gesprekvoering aanmoedig. Maar jy moet steeds aan die slim gaste die regte vrae vra om sinvolle gesprekke te kry."
Paxton glo nuus- en aktualiteitsprogramme is altyd belangrik, maar soveel te meer in 'n verkiesingsjaar.
"Ek gaan nie aan enigiemand voorsê vir wie om te stem nie. Wat ek wel gaan doen, is om met soveel mense as moontlik te praat sodat elkeen 'n ingelig-te besluit kan neem oor waar om 'n kruisie te trek."
Daarom praat sy in haar programme met "ingeligte rolspelers en meningsvormers".

"Hulle beweeg in ander kringe en weet dinge wat jy nie noodwendig op ander plekke gaan hoor nie."
Vra jy Paxton oor 'n laagtepunt in haar lewe, skiet haar oë vol trane. "Dis nie soveel 'n laagtepunt as wat dit my grootste hartseer was nie."
Sy sê haar ouma Christa van der Merwe, met wie sy 'n hegte band gehad het, is in haar laaste jare deur Alzheimer se siekte bekruip. "Eendag het sy oorgeleun na my ma en gevra wie is hierdie een wat so baie praat."
Paxton sukkel met 'n knop in die keel. "Om op daardie dag te besef dat ek haar finaal moet groet. Sy is nie dood nie, maar sy is weg. En ek is weg vir haar."
Haar ouma is in 2015 oorlede. "Dit was vir my baie, baie sleg."
Paxton het besluit om te doen wat sy die beste doen om dié verlies te verwerk. "Ek het stories gedoen oor Alzheimers."
Sy het ook daarvoor pryse gewen.
Radiogogga byt
Paxton is op 6 Augustus 1980 in Vanderbijlpark gebore. Die middelkind van Arnold en Ria Kok. "Ek het 'n ouer broer, Werner, en 'n jonger broer, Ruan."
In haar gr. 7-jaar het die gesin na Welkom in die Vrystaat verhuis. Sy matrikuleer in 1998 aan die Hoërskool Riebeeckstad.
"Ek het daai '94-verkiesing net gemis," sê sy.
Hoewel haar politieke bewussyn nog in die vormingsjare was, kan sy onthou hoe sy op TV gesien het hoe mense by stembusse in toue staan. Min kon sy toe raai dat die joernalistiek en swaar politieke gesprekke haar voorland is.
Sy het wel geweet sy gaan eendag radiowerk doen. "Ek het nog altyd van radio gehou."
Dit het begin toe sy 13 jaar oud was en in 'n skryfkompetisie 'n radio gewen het. Sy het tot vandag toe nog die einste radio. "En hy werk nog."
Jy kan die temperatuur, 'n gevoel, die atmosfeer verander net deur die regte klank te gebruik.
Met dié radio het die gewaarwording gekom. "Ek absoluut love radio!"
Paxton sê sy hou van die tegnologie agter radiowese, sy hou daarvan om met klank te werk en radio is verreweg haar gunstelingmedium om 'n boodskap oor te dra.
"Jy kan die temperatuur, 'n gevoel, die atmosfeer verander net deur die regte klank te gebruik."
Haar eerste kennismaking met 'n moontlike beroep in die radiowese was toe sy as skoolkind saam met 'n sanggroep op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus was.
"Ek was alewig besig om radio te luister. Terwyl ek in die skoolbussie gesit en deur die radiostasies gesoek het, het ek op die universiteit se radiostasie (nou PUKfm 93.6) afgekom. Daar en dan het sy besluit. "Ek gaan Puk toe en ek gaan radio doen."
Sy het ingeskryf vir 'n graad in bedryfskommunikasie aan die NWU.
"Daar is nie 'n kursus wat jou leer om in radio te werk nie. Die mikrofoon is jou maatjie of hy is nie. Jy kan nie gaan studeer om 'n uitsaaier te word nie."
Maar sy kon die medium leer ken. Gedurende haar studie het sy joernalistiek as vak gehad. "En die joernalistiek-gogga het toe ook gebyt, maar eers nadat die radiogogga lankal gebyt het."
Groot skoene
Nadat sy in 2002 haar graad verwerf het, het sy gesukkel om 'n voet in die deur van die bedryf te kry. Sy het as intern by OFM gewerk, maar daarna was daar nie 'n permanente pos vir haar beskikbaar nie.
"Ek het oral aansoek gedoen en sommer verniet gewerk ook. Die gemeenskapsradiostasies en -koerante wou my nie aanstel nie."
Sy was op moedverloor se vlakte, maar het aanhou glo dat die weg na 'n loopbaan in radiowese vir haar gebaan is.
"Hoe dan anders? Ek hou van al die aspekte van radio, van die advertensies tot die kabels oprol. Ek hou nie net van radio nie, ek verstaan dit ook."

Uiteindelik is sy as bemarker deur Oos-Rand Stereo aangestel.
"So, ek het eers radio-advertensies verkoop. Ek het van onder af begin. Maar by 'n gemeenskapsradiostasie doen jy alles."
Paxton het uiteindelik beland waar sy hoort - agter 'n mikrofoon. "Ek het in die oggende verkeersverslae gedoen en in die middae het ek 'n program aangebied."
Tussendeur het sy as tegniese regisseur gewerk en steeds advertensies verkoop, geskryf en vervaardig.
Sy het later nuusredakteur geword en toe is sy deur die SAUK opgeraap - maar nie as omroeper nie. "As die openbare uitsaaier aan jou deur klop, dan maak jy oop."
Al is dit nie jou droomwerk nie.
"Ek het uit die Oos-Rand gery en gery en gery . . . en toe nog gery en gery en gery . . . ek het verby 'n park met kameelperde en renosters gery en uiteindelik toe sien ek dit . . . Mahikeng."
Paxton was in Noordwes vir 'n onderhoud vir 'n pos as TV-joernalis. "Ek het niks van TV af geweet nie en ek het so aan hulle gesê ook, maar hulle het my aangestel."
Sy beskryf haar tyd in Mahikeng as "die beste drie jare".
"Ek moes alles leer. Ek moes alles doen. Ek is by plekke in wat mense se nekhare sal laat rys, maar ek het hierdie fantastiese stories gedoen. My kollegas was wonderlik."
Sy vermoed sy sou vandag nog in Mahikeng gewerk het as haar pad nie met RSG se nuus- en aktualiteitsprogramme gekruis het nie.

In 2008 het sy haar in Johannesburg by RSG se Monitor en Spektrum aangesluit. Sy het haarself spoedig as radiojoernalis bewys en het in luisteraars se hart gekruip as "die verkeertannie op Monitor".
"Cobus Bester (destydse aanbieder van Monitor) het een oggend by die kantoor ingestap en hy was regtig siek. "Kyk, daai man het gewerk regdeur hartaanvalle en siektes, maar daai oggend het hy regtig sleg gevoel en geklink."
Paxton onthou dat Bester "die verkeertannie" gevra het om oor te neem. "En daar het ek Monitor aangebied."
Dis moeilik om te dink dat dié ervare omroeper eens 'n senuagtige groentjie was.
"Ek dog ek gaan dood. Dit (Monitor) is die doyen van alle radio-nuusprogramme in die land. Om op kort kennisgewing Cobus Bester se groot skoene vol te staan was angswekkend."
Toe sy daardie dag uit die Monitor-ateljee stap, het sy met sekerheid geweet sy is presies waar sy hoort. En daardie dag staan ook uit as een van die trotsste oomblikke van haar lewe.
Kort daarna het sy by Iris Bester oorgeneem as aanbieder van Spektrum. "Om uit te saai, was nog altyd die droom. Ek leef my droom."
In 'n neutedop
Paxton woon in Centurion saam met haar twee "hondekinders". Peggy Paxton is 'n Jack Russell en Dutch Ferdinand die tweede, "Dutchie vir sy maatjies", is 'n Yorkshire-terriër.
Sy is gereeld in die gimnasium en boks ook om fiks te bly. "Oefen is vir my 'n goeie manier om stres te ontlaai en om die slegte nuus waarmee ons elke dag werk te verwerk."
Haar gunstelingboek is Where the Crawdads Sing. "Maar dit verander gedurig."
The Shawshank RedemptionenDon't Look Up is haar gunstelingrolprente.
Sy is gaande oor hoendervlerkies en sjampanje en haar gunstelingwoord of -uitdrukking is : "Fantasties!"
Wondergem is 'n redaksielid van Beeld.


















