Leo Tolstoi het eendag op 'n Russiese spoorwegstasie gestaan, sê sy biograaf, Iwan Nazjwin. Iemand het by hom verbygestap en nie gehoor sy vrou roep na hom nie. Toe sien die vrou Tolstoi sonder om hom te herken. "Ou man, gaan haal my man. Ek sal jou een pennie betaal," het sy uitgeroep. Tolstoi het aan die man gaan sê sy vrou soek hom, sy pennie gekry en weggestap. Ander mense het daarna aan die vrou gesê Tolstoi is op die stasie. "Waar's hy?" wou sy weet. "Dis daardie ou man wat jou man gaan haal het," antwoord iemand.
Sy was verleë dat sy die bekende skrywer met 'n pennie beloon het en wou dit terughê. Laggend het Tolstoi geantwoord hy gaan dit hou, want dis dalk die enigste eerlike pennie wat hy ooit verdien het.
Om mense op grond van uiterlike dinge soos ouderdom en voorkoms te takseer is gevaarlik. Leer by Jesus hoe om dit reg te doen. Oud en jonk, mans en vroue, sondaars en regverdiges, ryk en arm was altyd welkom én veilig in sy nabyheid. By Hom leer ons hoe om mense met waardigheid te behandel. By Hom leer ons om mense nooit as lewende werktuie of persoonlike lakeie te beskou nie. O ja, as ander dit met ons doen, is ons nooit liggeraak nie. Ons leer immers ook by Jesus om stylvol op te tree as ons misbruik of misverstaan word. Om vry te wees van enige behoefte aan erkenning of vernaamheid is dalk die grootste vryheid ooit.




















