Daar's nie regtig iets soos 'n gratis ete nie. Niks val sommer in jou skoot nie. Meestal soek mense iets in ruil daarvoor. 'n Guns vir 'n guns. 'n Goeie daad vir 'n goeie daad. Moenie te verbaas wees daaroor nie. Dis nog altyd so.
In die antieke Grieks-Romeinse tyd was wederkerigheid die algemene leefreël. In dié tyd het mense doelbewus gegee om iets terug te ont-vang. Daarom was daar nie formele hulpverlening aan armes en mense in nood nie. Dié mense kon niks aan hul weldoeners teruggee nie.
Die Bybel kies 'n ander roete. Om 'n arme te help is om 'n lening aan die Here te maak, leer Spreuke 19:17. Hy sal jou self daarvoor vergoed.
In Lukas 14:12-14 sê Jesus aan 'n gasheer as hy weer 'n luukse ete hou, moet hy nie sy vriende, broers, familie of welaf bure nooi nie. Hulle sal hom net terugnooi volgens die spelreëls van wederkerigheid. Wanneer hy weer 'n feesete hou, moet hy eerder vier ander groepe nooi - armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Hulle sal hom nooit kan terugnooi of terugbetaal nie. Maar God sal dit vir altyd onthou en hom op die laaste dag daaroor loof.
Om goed te doen aan diegene wat dit nie kan terugdoen nie, is om dit aan God self te doen. God is die eintlike Ontvanger van elke weldaad wat jy in sy Naam bewys. Jy kan dus gratis etes hou. Jy kan gratis goed aan ander doen. Die Here sal dit as 'n lening beskou. Hy sal jou goedheid vir altyd onthou.




















