Om te dehidreer of te ontwater is lewensgevaarlik. Ons liggaam het water nodig. Daarom dat Jesus se woorde in Matteus 10:42 so aangrypend is. Hy sê hier God sal diegene beloon wat vir een van sy kleintjies 'n beker koue water gee. Kleintjies (mikroi in Grieks) is 'n verwysing na Jesus se weerlose volgelinge. Wel, om vir een van Jesus se vriende 'n beker water te gee, is om die hemel se oog te tref. Maar wag, dit is nie sommer net water wat hier ter sprake is nie, dis koue water.
In die Bybelse wêreld was koue water skaars. Daar was nie yskaste nie. Die enigste natuurlike plekke waar koel water te vinde was, was by fonteine en strome. Om vir iemand kouer water te gee, was om groot moeite vir hom of haar te doen. Jy moes na so 'n bron toe gaan om water te skep en dit dadelik vir die dorstige neem. Wanneer jy iemand met koue water gedien het, was dit dus 'n oomblik van Goddelike hidrasie. God het dit raakgesien. Tot vandag toe sien Hy dit steeds raak as jy mense se nood raaksien en hulle dien.
Uit die Woord
"En wie aan een van hierdie geringes 'n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy 'n dissipel is - Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning kwyt wees nie." - Matteus 10:42





















