By eKerk, ’n digitale bediening waarby ek betrokke is, kry ons nou die dag ’n naamlose brief van iemand wat sê hy het “wêreldse kerke” lankal prysgegee. Maar toe loop hy ons raak en dit lyk amper vir hom asof ons aan sy geestelike standaarde kan voldoen. Toe lig hy net eers ’n paar foute uit wat ons moet regstel voordat hy dit sou oorweeg om ons ernstig op te neem. Uiteraard het ons niks geantwoord nie, want vir perfekte mense is geen vorm van kerkwees ooit goed genoeg nie.
Hiervan gepraat, in ’n nuwe oorsese meningspeiling oor hoekom mense godsdiens vaarwel toegeroep het, dui 43% aan dat skynheiligheid die hoofrede is. Om nie te praat van godsdienstiges se foute nie. Toe ek dit lees, onthou ek weer die naamlose brief hierbo. Toe is ek opnuut dankbaar dat die Here se kerk nie volmaak is nie. Nee, ons mag ons foute nooit as flou verskonings gebruik nie. Ons mag nie rondlê in ons oortredings omdat ander dit doen nie. Dít laat die Here nie toe nie. Nogtans gebruik Hy ons ten spyte van ons gebreke.
O ja, as jy iewers ’n volmaakte kerk ontdek het, laat weet gerus. Intussen gebruik die Here graag gewone mense wat Hy in genade aangeraak het.
Uit die Woord
U, my Heer, is immers goed
en vergewensgesind,
en oorvloedig in troue liefde
teenoor almal wat na U roep. – Psalm 86:5













