Stephan Joubert: Die pad van vrede bestaan steeds

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Betoger met ’n foto van ’n slagoffer van die oorlog in Gasa. Hy het Saterdag naby die Israelse grens met Gasa aan ’n betoging vir die beëindiging van die oorlog deelgeneem. Foto: Reuters
’n Betoger met ’n foto van ’n slagoffer van die oorlog in Gasa. Hy het Saterdag naby die Israelse grens met Gasa aan ’n betoging vir die beëindiging van die oorlog deelgeneem. Foto: Reuters

W.H. Auden (1907-1973) se hartverskeurende gedig "September 1, 1939" sien die lig wanneer die Tweede Wêreldoorlog uitbreek. Sy woorde "Those to whom evil is done, do evil in return" steek steeds in my hart vas.

Ek onthou van miljoene Jode wat toe ook slagoffers van die Nazi-oorlogsmasjien was. En ek wonder oor sommige van hul nasate se oorlogsdade in Gasa waar duisende onskuldiges uitgehonger word en in die spervuur sterf.

Dan wonder ek: Wat sou Jesus doen? Sou Hy tussen al die stukkendes, die gewondes en die uitgeworpenes wees, of tussen al die magshebbers met die groot kanonne?

Oorlog woed tans oor die hele wêreld heen. Ons land is ook 'n kookpot van geweld en rassisme. Wat 'n tragedie dat vrede op aarde al hoe meer na 'n hersenskim lyk.

Nogtans is Jesus se boodskap tydloos waar. Hy is steeds die Prins van vrede. In sy oë is die sagmoediges en vredemakers steeds God se geseëndes. Jesus weier dat sy navolgers enige vorm van geweld verdedig of aanmoedig. Mag Hy ons Padwyser wees op die smal pad van vrede hier in 2025.

Uit die Woord

Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. - Jesaja 9:5-6

"Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word." - Matteus 5:9

SPELETJIES VANDAG

CTA