Stephan Joubert: Dink wat jy sê

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie: Pixabay
Illustrasie: Pixabay

In 1956 het John Bardeen die Nobelprys vir fisika gewen. Tydens die oorhandigingsgeleentheid was Swede se koning Gustav VI ietwat teleurgesteld dat Bardeen nie al sy kinders saamgebring het vir hierdie spoggeleentheid nie. "My twee seuns skryf tans eksamen en ek wou hulle nie ontwrig nie," was Bardeen se antwoord. Maar toe sê hy skertsend hy sal hulle saambring as hy die Nobelprys weer wen. Toe gebeur dit inderdaad in 1972. Al sy kinders was dié keer by die oorhandigingsgeleentheid.

Daar is 'n ou spreekwoord wat lui: " 'n Mens moet nooit sê ‘Fonteintjie, ek sal nooit weer van jou drink nie.' " Vra gerus vir Simeï in 2 Samuel 16. Toe hy gehoor het dat Dawid uit Jerusalem wegvlug voor Absalom, het hy agter hom aangeloop en hom gevloek. Ook het hy Dawid en sy manskappe met klippe bestook. Hy het geglo Dawid wou Saul se nageslag uitroei, daarom kry Dawid nou sy verdiende loon.

Maar die gety het spoedig verander. Dawid het teruggekeer na Jerusalem. Toe moes Simeï sy woorde sluk. In 2 Samuel 19 het hy in die stof voor Dawid neergeval en hom om vergifnis gesmeek. Dawid se soldate wou Simeï daar en dan doodmaak, maar Dawid was hom genadig.

Dit laat my opnuut besef ons moet mooi dink wat ons vir ander mense sê. Ons woorde kan ons inhaal op goeie maniere (soos met Bardeen), maar ook op slegte maniere (soos met Simeï). Ons moet maar bid dat die Here daardie hemelse wag voor ons mond voltyds aan diens sal hou. Ek bedoel daardie goeie wag waarna Psalm 141:3 verwys.

Uit die Woord

Here, plaas 'n wag voor my mond, bewaak die deur van my lippe. - Psalm 141:3

SPELETJIES VANDAG

CTA