“Ek is moeg.” “My battery is pap.”
Hopelik is sulke woorde nog nie hoogmode teen einde Januarie nie, maar dit sal die treffersparades wel binnekort haal. Dis die taal van ons tyd. Mense is vuisvoos.
Nee, dis nie asof ons die generasie is wat noodwendig die langste of die hardste ooit in die geskiedenis werk nie. Nogtans beleef mense in ons tyd geweldig hoë vlakke van stres en angs wat gepaard gaan met werksdruk, hoë lewenskoste en mense se pogings om maand ná maand kop bo water te probeer hou. Daaglikse lewenskoste en toenemende armoede verander die lewe in ’n permanente oorlewingstryd vir dermiljoene. Vandaar ons lewensmoegheid.
Daar is geen kitsoplossings nie. Ons het wel die keuse om nie ingesluk en oorweldig te word deur ons daaglikse uitdagings nie. As gelowiges bely en beleef ons dat God se daaglikse brood elke dag betyds is.
Ook kyk ons nie anderpad as mense rondom ons moeg en honger is nie. Al kan ons nie almal se laste dra nie, kan ons wel een of twee persone s’n help dra. Al kan ons nie die wêreld se armoede oplos nie, kan ons sorg dat een of twee mense nie vanaand honger gaan slaap nie. Kom ons doen dit vandag. Dan het moegheid en armoede minstens nie oral die laaste sê nie.
Uit die Woord
Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ’n swaar las nie, want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof. – 1 Johannes 5:3-4













