Die Griekse werkwoordvorm eureka ("ek het gevind") word soms as 'n uitroep gebruik.
Die Griekse wiskundige Archimedes het blykbaar eendag in sy bad agtergekom die volume water wat hy verplaas het, is gelyk aan sy liggaamsvolume in die bad. Hy was so opgewonde dat hy vergeet het hy hardloop kaal in die straat terwyl hy uitroep: "Eureka!"

Hierdie woord kom ook 'n paar keer in die Griekse teks van Johannes 1 voor wanneer mense Jesus teëkom. Dit begin met Andreas wat in vers 41 sy broer Petrus "vind". Dan vertel hy opgewonde vir hom: "Ons het die Messias gevind" (eurekamen). In vers 45 lees ons hoe Filippus Nataniël vind (euriskein) en vreugdevol vir hom sê: "Ons het Jesus gevind" (eurekamen).
Eureka is nie net 'n insiggewende vind-oomblik nie; dis 'n lewensveranderende aha-ontdekking. Mark Jung-Beeman en sy span, wat die fisiologiese prosesse in aha-ervarings bestudeer, het bevind mense se breingolwe verander direk voor sulke oomblikke van insig, asook hul gesigsuitdrukking. Dis lewensveranderend. In Johannes 1 het dit gebeur met elkeen wat Jesus teëgekom het. Andreas en Filippus se getuienis van hul eureka-oomblikke het van hulle splinternuwe mense gemaak. Sulke eureka-oomblikke saam met Jesus gebeur vandag nog wanneer ons toelaat dat Hy ons verras en oorweldig met sy goedheid. Jy sal dit weet as Jesus jou gevind het, en jy Hom.




















