Sielsdinge

Stephan Joubert: Gebruik die Bybel reg

Gebruik die Bybel reg.
Gebruik die Bybel reg. (Foto: Getty Images)

“Look what they’ve done to my song, Ma!” So sing die legendariese Woodstock-kunstenaar Melanie doer in 1970. Daardeur wou sy haar frustrasie verwoord oor wat mense met haar musiek en lirieke aangevang het.

Ek wil iets soortgelyks uitroep wanneer ek sien wat mense soms met die Bybel aanvang. Bybelse kontekste word verrinneweer en geïgnoreer. Onlangs sien ek op ’n oorsese webblad hoe iemand vertel hulle het vir ’n celebrity gebid wat in die openbaar gesing het terwyl dit reën. Hulle het gestaan op Matteus 8:27, waar Jesus die storm beveel het om te bedaar terwyl hulle ander Bybeltekste nadergehark het om haar make-up te beskerm en haar klere mooi te laat lyk.

Bybel-verrinneweerdery raak baie erger wanneer jy in mense vasloop wat op tekste staan wat blykbaar sou waarborg dat ’n familielid se kanker sal verdwyn. Toe het dit nie gewerk nie. Nou is hulle briesend vir God.

Waag jy dit om vir mense te sê hulle gebruik die Bybel verkeerd, hoor jy gou-gou jy is judgemental, want hulle bedoel dit goed. Dan wonder ek hoekom geld goeie bedoelings nêrens elders as ’n verskoning as dinge sleg afloop nie. Dokters, ingenieurs en aptekers kan tog nooit daarmee wegkom nie.

Ons elkeen het ’n dure plig om God se Woord reg te verstaan en reg toe te pas. Ons gevoelens, emosies en goeie bedoelings mag nooit die finale sê hê nie.

Uit die Woord

Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is. – 2 Petrus 1:20-21

CTA