Karl Schmidt was 'n Amerikaanse herpetoloog. In 1957 het die Lincoln Park-dieretuin hom gevra om 'n slang uit Afrika te identifiseer. Op 26 September het die slang hom gepik. Schmidt het gemeen dis 'n boomslang, maar om seker te maak het hy mediese hulp geweier. Sy rede was volgens The Chicago Daily Tribune: "That would upset the symptoms." Schmidt het voortgegaan met sy werk en al sy simptome neergeskryf. Helaas was hy 24 uur later dood.
Mense wil graag leef en sterf vir 'n droom wat groter as hulself is. Of jy jou lewe egter vir die identifisering van 'n boomslang moet opoffer, is te betwyfel. Dan kies ek eerder Jesus se pad. Sy roeping is ook alles of niks. Jesus roep ons immers op om sy kruis te dra. Hy vra ons hele lewe. Maar hierdie radikale keuse bring nuwe vryheid en vreugde. Dit lei tot 'n nuwe lewe wat aangevuur word deur liefde vir God. Dit lei tot 'n selflose lewe van diensbaarheid teenoor ander, en tot groter sorgvryheid in die Here.





















