Uitbranding is daardie totale emosionele en fisieke moegheid wat uit langdurige stres voortvloei. Onlangs loop ek 'n nuwe studie raak waarin bevind is elke geval van uitbranding kos Amerikaanse maatskappye $21 000 per jaar. Daarom bestee instellings groot bedrae aan wegbreke, motiveringsprekers en gerieflike werksomgewings om uitbranding te keer.
Hierdie studie toon egter dié maatreëls help nie genoegsaam nie. Daardie organisasies wat deurlopend in hul mense belangstel en wat die nodige erkenning aan hulle gee, beleef wel 73% minder uitbranding onder werknemers.
Lyk my om opreg in ander belang te stel by wyse van 'n bietjie TLC (tender loving care) is die bes bewaarde geheim ooit!
1 Korintiërs 13 beskryf dit as die pad van die liefde. Om dit te beoefen, is om op 'n roete van opbou en genesing te leef.
Hoor net hoe mooi beskryf Paulus hierdie pad (vers 4-5, NNT): "Liefde is geduldig met ander. Liefde is vol medelye teenoor ander. Dit is nooit jaloers op ander se besittings of prestasies nie. Liefde praat nooit groot nie. Dit is nooit ongeskik met ander nie. Dit is nie selfgerig nie, maar soek graag ander se voordeel. Dit is nooit geïrriteerd nie. Dit hou nooit boek van die slegte dinge wat ander doen nie."






















