Dis gewild om te sê jy kan nie vir mense raad gee totdat jy self eers 'n myl in hul skoene geloop het nie. Met ander woorde jy moet eers die nodige begrip en empatie vir ander mense hê voordat jy enige mening oor hul leefwyse kan waag.
Soms laat hierdie spreuk 'n mens magteloos. Kan ons regtig ooit in mekaar se skoene loop? Moet ons eers mekaar se stories ken of verstaan voordat ons met empatie teenoor mekaar optree?
As ek dit nie mis nie, roep die Heer ons op om altyd reg te doen aan ander. Ons doen reg, al ken ons ander mense nie persoonlik nie, of al verstaan ons hul omstandighede nie. Ons het altyd 'n hart vir mense in nood. Ons het altyd 'n oog vir eensames. Ons het altyd oop hande vir armes. Ons maak graag tyd vir gelukkiges en uitgesorteerdes. Dis wie ons is.
Ons wag nie totdat ander ons nooi om hul skoene vir hulle uit te trap nie. Ons doen altyd wat ons doen tot die Heer se eer.
Uit die Woord:
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word en dan in opregtheid.
Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. - 1 Johannes 3:18 en 4:7





















