Daar's een woord waarvan ek net mooi niks hou nie: "gesiene". Miskien is dit omdat ek dikwels in my kinderjare moes hoor van gesiene lidmate in die kerk. Of van gesiene mense wat dit ver gebring het in die lewe. Toe iemand weer onlangs by 'n byeenkoms vir my sê ek moet iemand se hand gaan skud wat gesiene is, het ek sommer ongesiens verdwyn.
Hoekom wil mense gedurig met vernames, bekendes, en ver-bringers in die lewe geassosieer word? Is dit omdat ons steeds nie verstaan dat nederigheid tuishoort in die hartklop van Jesus se leringe nie? Hy self het geleer dat as ons groot wil wees in God se oë, dan moet ons nederig wees. En as ons eerste wil wees, dan moet ons bereid wees om mekaar se dienaars te wees. Ons is geroep om die lig op die Here en op ander te laat skyn, nie op onsself nie. As ons dit vergeet en kies om "gesiene" te raak, verdwyn die Here ongesiens van die toneel af.- Stephan Joubert
Verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernisse op hom te werp, want Hy gee om vir julle. - 1 Petrus 5:6
Die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees. Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word. - Matteus 23:11-12




















