'n Onderwyseres wat by 'n arm laerskool klasgee, vertel my onlangs van een oggend toe sy die kinders geleer het om koek te bak. Te laat het sy besef hulle kort nog een eier. Ewe kordaat staan 'n klein outjie egter op en bid spontaan dat die Here asseblief vir hulle daardie eier sal stuur. Toe hy amen sê, sê hy vir sy juffrou sy moenie bekommerd wees nie. Die eier sal opdaag.
Die juffrou het geweet daar's nie winkels of ander hulp in die nabyheid nie. Al genade was om maar te begin brou en bak. Toe sy een van die eiers oopbreek, is dit 'n dubbeldoor, een met twee eiergele. Dit was presies wat hulle vir die koek nodig gehad het. Sy het dit dadelik vir die klas gesê.
Die seuntjie wat so opreg gebid het, staan toe met 'n groot glimlag op sy gesig daar rond: "Ek het Juffrou mos gesê!" Kosbaar, nè! Ek dink dit is hoekom Jesus in Matteus 18 gesê het as ons nie verander en soos kindertjies word nie, sal ons nooit in die koninkryk van God ingaan nie. Mag ons dit doen en so opreg soos kinders glo.
Uit die Woord
Hy (Jesus) het toe 'n kindjie nader geroep, hom tussen hulle laat staan en gesê: "Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie." - Matteus 18:2-3





















